Chris Fick & Associates

Sommige foutjies is duurder as ander.

Jy kry ‘n baie goeie aanbod op jou eiendom en sluit die transaksie. Jou gedagtes begin al dwaal na wat jy met die opbrengs gaan doen. Dan tref dit jou – met al die opgewondenheid van die hangende transaksie, het jy glad nog nie gedink aan die BTW implikasie nie.

Dit gebeur tog en ‘n onlangse saak in die Hoë Hof wys juis hoe maklik dit kan gebeur.

“Lyk my ons het nou so R221 000 verloor.”

Die omstandighede was as volg:

  • Die aangestelde likwidateurs van ‘n beslote korporasie het een van die gelikwideerde BK se eiendomme vir R1,8 miljoen verkoop.
  • Dit was ‘n BTW transaksie en die verkopers – soos verteenwoordig deur die aangestelde likwidateurs – sou die BTW op die transaksie aan SARS moes oorbetaal.
  • Die verkopers het deurentyd in gedagte gehad dat die transaksie ‘n netto opbrengs van R1,8 miljoen sou oplewer. Die bank wat die vereiste skriftelike goedkeuring aan die likwidateurs verleen het om die aanbod te aanvaar, het dit ook gedoen op voorwaarde dat die aanbodprys BTW sou uitsluit.
  • Ongelukkig vir die likwidateurs het die verkoopsooreenkoms wat hulle gebruik het geen aanduiding gegee dat BTW bykomend tot die koopprys betaalbaar sou wees nie. Die BTW Wet maak dit duidelik dat indien daar nie enige aanduiding is dat BTW bykomend betaal moet word nie, word aanvaar dat die ooreengekome prys die volle prys is en dat BTW reeds daarby ingesluit is. As jy dus dieselfde fout maak en nie uitdruklik bepaal dat die koper bykomende BTW op die koopprys moet betaal nie, is dit die bedrag wat die koper gaan betaal. Niks meer nie en niks minder nie.
  • Hier het die koper na sluiting van die transaksie ‘n pro forma faktuur ontvang om die BTW bykomend tot die koopprys te betaal. Hy het geweier om dit te betaal. Daarna het hy die hof genader vir ‘n bevel om die likwidateurs te verplig om die eiendom aan hom oor te dra teen betaling van die ooreengekome koopprys van R1,8 miljoen.
  • Ten tyde van die aanhoor van die aansoek het die likwidateurs die hof versoek om rektifikasie van die koopkontrak te gelas. Daarvolgens sou dit die partye se ware bedoeling gewees dat die ooreengekome koopprys, uitsluitend van die BTW bedrag sou wees. Die hof was egter nie oortuig van so ‘n gemeenskaplike bedoeling nie en weier rektifikasie. Die likwidateurs sou in elk geval eers formeel moes aansoek doen om rektifikasie van die ooreenkoms, wat hulle nie gedoen het nie.
  • Die BK was dus verplig om die eiendom aan die koper oor te dra en R1,8 miljoen as die volle koopprys daarvoor te ontvang. Van hierdie bedrag sal die likwidateurs die BTW van R221,053 aan SARS moet oorbetaal. Die likwidateurs sal dan op hul beurt aan die verbandhouer as versekerde skuldeiser moet verduidelik waarom die finale dividend ongeveer R220 000 minder gaan wees as wat verwag is.

Moet nie dieselfde fout maak nie.

Wanneer groot kontrakte ter sake is, veral waar eiendomme ter sprake is, behoort jy nie enige ooreenkoms te teken voordat jou regsverteenwoordiger ten minste daarna gekyk het nie.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)