Chris Fick & Associates

(VERAL NIE VOLMAGTE VAN JOU BEJAARDE OUERS NIE)

Indien jou bejaarde ouers jou hulp benodig met die neem van hul besluite rakende hulle persoonlike welstand, geldsake, mediese behandeling en dies meer, is ‘n volmag dikwels ‘n gerieflike manier om dit te hanteer. Hou net in gedagte dat dit ‘n tydelike reëling is.

Kom ons onderskei eerstens tussen die twee tipes volmagte waarmee jy waarskynlik te doen sal kry –

Spesiale of Algemene?

  1. ‘n Spesiale volmag gee aan ‘n agent volmag om namens sy prinsipaal in ‘n spesifieke transaksie of in ‘n beperkte, gespesifiseerde reeks aangeleenthede op te tree. ‘n Tipiese voorbeeld hiervan is die spesiale volmag wat jy as verkoper teken, waarin jy jou aktebesorger magtig om namens jou op te tree en om dokumente namens jou te teken en tydens die registrasieproses uit te voer.
  2. Jy het ook waarskynlik al met ‘n algemene volmag te doene gehad. ‘n Algemene volmag gee aan die aangestelde agent die mag om oor die algemeen namens die prinsipaal op te tree. So ‘n volmag sal baie wyd bewoord wees om soveel as moontlik optredes en besluite moontlik te maak. Dit is dikwels die beste opsie vir bejaarde ouers.

Die gevaar van outomatiese beëindiging

‘n Prinsipaal kan heel logies sy of haar eie volmag enige tyd kanselleer. Wat egter nie so bekend is nie, is dat die volmag outomaties sal verval indien die prinsipaal –

  1. Tot sterwe kom; of
  2. Insolvent verklaar word en sy/haar boedel gesekwestreer word; of
  3. Verstandelik onbevoeg word om nie meer sy/haar eie besluite te kan neem nie. Dit gebeur dikwels as gevolg van ‘n beroerte, ‘n koma na ‘n ongeluk, geestesongesteldheid, siekte of as gevolg van enige vorm van algemene verminderde kapasiteit te wyte aan ouderdomsverwante faktore.

Dit is juis in die geval van verminderde kapasiteit waar die meeste versorgers onkant gevang word. Is dit dan nie juis die hele rede agter die volmag nie, om namens jou ouers op te tree wanneer hulle nie meer self in staat is om dit te doen nie?

Ons reg stel dit duidelik dat ‘n agent slegs kan doen wat die prinsipaal by magte is om te doen. Indien ‘n prinsipaal dus sy of haar handelingsbevoegdheid verloor, verval die volmag onmiddellik.

As ‘n versorger en ‘n gevolmagtigde, dra jy dan ook die risiko van persoonlike aanspreeklikheid vir enige iets wat jy doen, selfs in goeder trou, nadat jou prinsipaal sy of haar handelingsbevoegdheid verloor het.

Kuratorskap en ander opsies

Daar is wel ‘n formele oplossing – jy sal die Hoë Hof moet nader om ‘n kurator aan te stel om die sake van die prinsipaal verder te bestuur. Ongelukkig is sodanige kuratorskap duur, onderhewig aan burokratiese prosedures en vertragings. Dit kan ook as paternalisties of neerhalend ervaar word en omdat sodanige hofaansoek in die openbaar gemaak word, soms vernederend vir die prinsipaal. Die aanstelling van ‘n administrateur in terme van die Wet op Geestesgesondheidsorg is nie veel beter nie. Dit geskied in gevalle van werklike geestesongesteldheid of ernstige of diepgaande intellektuele gestremdheid.

Dit kan die moeite werd wees om ‘n familietrust op te stel om die suiwer finansiële aspekte aan te spreek. Wees net bewus van die kostes, belasting en ander implikasies wat daarmee gepaardgaan – veral in die lig van die regering se voortdurende bemoeienis met trusts.

Die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie het in 2004 veranderinge aanbeveel om voorsiening te maak vir alternatiewe soos –

  1. ‘n Voortdurende volmag wat geldig sal bly ten spyte van die daaropvolgende onvermoë van die prinsipaal; en
  2. ‘n Voorwaardelike volmag wat slegs in werking sal tree indien die prinsipaal onbevoeg raak.

Dit is nou al twaalf jaar sedert die aanbevelings voorgelê is. Tot op hede bly hierdie slegs aanbevelings. Sommige regskommentators het aangedui dat ons howe ‘n behoorlik bewoorde voortdurende volmag behoort te erken, terwyl ander kommentators hiervan verskil. Daar is gevolglik onduidelikheid en daarom ook risiko’s vir so ‘n gevolmagtigde.

Jy moet dus eerder volledige regsadvies oor jou spesifieke omstandighede inwin, indien jy voorsien dat ‘n volmag vir jou of ‘n lid van jou familie nodig gaan wees.

Indien u met ons in verbinding wil tree ten opsigte van enige aspek wat hierin vermeld word, stuur asb ‘n epos aan info@chrisfick.co.za

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)