Chris Fick & Associates

Gedurende 2015 het ons as ‘n firma besluit om ‘n 4 tot 8 weke opleidingsprogram te begin wat daarop gerig is om die lewens te verbeter van werklose jongmense wat afkomstig is uit die Kaapse “townships”. Die doel is om hierdie jongmense te help om vaardighede te ontwikkel en administratiewe ondervinding op te doen in ’n formele werksomgewing.

Ons kandidate is gekies vanuit die woongebiede rondom Kaapstad deur ‘n onafhanklike persoon wat self in die “townships” woon en wat betrokke is by ander projekte in haar gemeenskap waarmee sy help om volwassenes selfstandig en finansieel selfversorgend te maak.

Die program bied geleenthede om ons kandidate te bemagtig met in-diens werksondervinding, en om hul profiele te bou sodat hulle meer bemarkbaar kan wees op verskillende diensvlakke.  Die kandidate is betrokke met werklike werksopdragte wat ons as waardevol beskou in die werksomgewing.  Teen die einde van die program hou ons uitkoms-onderhoude met die kandidate om terugvoer te kry oor hul ervaring van die program en om vas te stel in watter diensveld hul nuutgevonde vaardighede die beste toegepas kan word.

‘n Groot deel van ons program behels werkskadu met verskeie lede van ons werkspan, opleiding in kantoorvaardighede, die bekendstelling en blootstelling aan verskeie Staatskantore soos die Akteskantoor, Meesterskantoor, die Hooggeregshof, Landdroshof, Munisipaliteit, Ontvanger van Inkomste, Poskantoor en Docex, en om take te verrig by hierdie onderskeie kantore en instellings.  Die kandidate word ook blootgestel aan bode-take, pos-voorbereiding, argiefliassering, betekening en liassering van hofstukke, kantoorliassering, rekenaarvaardighede en basiese navorsing, telefoon-etiket en ander algemene kantoorfunksies. Bo en behalwe hierdie praktiese vaardighede, moedig ons hulle aan om te lees en selfonderrig te doen.

Sivuyise, Gouwa, Lindile, Welcome, Wada, Luciane en Mzu was tot dusver by ons program betrokke.  Gouwa en Luciane het beide werksaanstellings gekry by ander firmas in die stad terwyl hulle nog deel was van die opleidingsprogram. Ideaal-gesproke sal ons graag al ons kandidate in diens geneem wil sien tydens of so spoedig moontlik na voltooiing van die program.

Indien u meer wil weet oor ons kandidate en moontlik oorweeg om een van hulle tydelik, deeltyds of voltyds aan te stel, kontak ons gerus in daardie verband by info@chrisfick.co.za en 021-4243937.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)