Chris Fick & Associates

“Why should a municipality be entitled to visit the sins of a predecessor in title upon innocent third parties when there is no relationship or connection between that party and the debts in question?” (So vra die regter in die saak wat hierin bespreek word.)

Die onlangse uitspraak van die Hoë Hof in Pretoria het tot die redding gekom van eiendomskopers van wie voorheen verwag is om die vorige eienaar se agterstallige munisipale skulde te delg.

Wanneer jy ‘n eiendom koop, het jy ‘n munisipale uitklaringsertifikaat nodig om die eiendom in die aktekantoor oor te dra. Hierdie uitklaringsertifikaat word slegs deur die munisipaliteit uitgereik indien alle belasting, water en elektriese rekeninge vir die voorafgaande twee jaar voor oordrag, ten volle vereffen is.

Die probleem ontstaan wanneer die verkoper se skulde ouer as twee jaar is. In so ‘n geval kan die munisipaliteit nie die verkoper verplig om daardie historiese skulde te betaal, deur die transaksie terug te hou nie.

Die koper is nie meer die maklike teiken nie

Tot en met hierdie uitspraak, was die koper die sagte teiken vir die munisipale skuldinvorderaars. Die munisipaliteit kon jou toevoer tot water en elektrisiteit afsny. In sommige gevalle is gedreig om die koper se eiendom in eksekusie te verkoop. Die koper moes opdok vir iemand anders se skulde – in hierdie spesifieke geval het die munisipaliteit R6,5 miljoen van die koper geëis.

Gelukkig het die hof hierdie posisie nou ten gunste van die onskuldige koper opgeklaar. Die hof bevind dat ‘n nuwe of opvolgende eienaar nie sondermeer aanspreeklik kan wees vir die historiese munisipale skulde van die vorige eienaars of okkupeerders nie. Tensy die koper en die verkoper uitdruklik en skriftelik met mekaar ooreengekom het, sal sodanige optrede van die munisipaliteit ongrondwetlik wees. Die hof maak dan ‘n bevel en verklaar hierdie klousule wat die munisipaliteit magtig om teen die koper op te tree, ongrondwetlik. Hierdie verklaring en bevel sal in alle waarskynlikheid deur die Grondwetlike Hof bekragtig word. Alle ander howe in die land sal dan ook aan hierdie bevinding gebonde wees, wat beteken dat alle kopers voortaan hierdie beskerming sal geniet.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)