Chris Fick & Associates

“…’n werknemer moet die belange van die werkgewer in goeder trou beskerm. As die werknemer weet van optrede van ander wat die belange van die werkgewer ondermyn, is die werknemer verplig om dit ten minste aan te meld. Die werknemer kan nie net bloot stilbly terwyl die werkgewer voortdurend op onwettige wyse benadeel word nie.”  (Informele vertaling uit die uitspraak hieronder.)

Ons wette en howe bied goeie beskerming vir die reg van werknemers om te staak.  Deelnemers aan ‘n beskermde staking geniet wye beskerming teen enige onwettige optrede teen hulle deur hul werkgewers.

Hierdie beskerming is egter daaraan onderhewig dat stakers (en hul vakbonde) altyd binne die bepalings van die reg moet optree. Dit sluit ook in dat stakings ten alle tye vreedsaam moet bly en nie in geweld moet ontaard nie.

‘n Onlangse beslissing van die Arbeidshof toon dat selfs onskuldige werknemers wat geen direkte betrokkenheid by enige wangedrag gehad het nie, ook aanspreeklik gehou kan word as hulle weier om te help met enige ondersoeke na die staking.

 ‘n Staking raak gewelddadig

  • ‘n Loondispuut het tot ‘n beskermde staking gelei.
  • Ongelukkig was die staking deur gewelddadige konfrontasie, intimidasie, teistering en deur die beskadiging en vernietiging van eiendom gekenmerk.
  • Ten spyte daarvan dat die werkgewer ‘n hofinterdik teen hierdie ernstige wangedrag verkry het, het dit steeds onverpoosd aangehou.
  • Die werkgewer het diegene wat direk by die gewelddadige optrede betrokke was, afgedank. Diegene wat aan afgeleide wangedrag skuldig bevind was, is ook afgedank. Hulle was skuldig bevind op sterkte daarvan dat hulle geweier het om die werklike skuldiges te identifiseer, nadat die werkgewer hulle gevra het om dit te doen.

Vertroue, goeie trou en die plig om oortreders te identifiseer

Die Arbeidshof het bevind dat al hierdie afdankings billik was. In die proses het die hof ‘n uiteensetting gegee oor “afgeleide wangedrag” –

  • Die aard en wese van ‘n diensverhouding is op vertroue en goeie trou  gebaseer.
  • ‘n Verbreking van hierdie plig tot goeie trou kan ontslag regverdig.
  • As ‘n werknemer inligting het oor die skadelike wangedrag van mede-werknemers en weier om dit aan die werkgewer bekend te maak, is dit ‘n skending van hierdie plig tot goeie trou.

Die stakers wat onskuldig was aan werklike wangedrag, maar doelbewus inligting wat aan hulle bekend was weerhou het (deur stil te bly toe hulle herhaaldelik gevra was om die skuldiges te identifiseer), was skuldig aan afgeleide wangedrag. Die Arbeidshof bevind dat hul ontslag substantief en ook prosedureel billik was.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)