Chris Fick & Associates

JOU EIENDOM IS DALK ONLANGS WEER WAARDEER.

“Die blote indiening van ‘n beswaar sonder enige meriete, beteken nie dat die munisipaliteit nou verplig word om in diepte redes te verskaf vir hul onderliggende besluit om die eiendom se waardasie aan te pas nie. (Vrye vertaling uit uitspraak hieronder.)

Plaaslike owerhede is by magte om jou eiendomswaardes gereeld aan te pas, aan die hand van onlangse eiendomstransaksies in ’n gebied.

Enige opwaartse aanpassing van jou munisipale eiendomswaarde beteken natuurlik meer geld uit jou sak uit elke maand. Jou maandelikse munisipale belasting is ‘n faktor van die geagte waarde op jou eiendom vermenigvuldig met die faktor wat elke munisipaliteit met hul begroting vasgestel het.

Elke vier jaar moet munisipale waardeerders ‘n algemene waardasierol opstel. Dit moet besonderhede van elke eiendom soos op datum van waardasie bevat en die eienaars moet in kennis gestel word dat hul beswaar kan maak teen die waardasie.

Dit is natuurlik jou geleentheid om die munisipaliteit te oortuig dat hul waardasie verkeerd is. Van jou kant af moet jy seker maak dat jou beswaar op die  voorgeskrewe formaat, in die toegelate tydsraamwerk en met voldoende besonderhede gemaak word.

Onvriendelike skrywes en ‘n onsuksesvolle beswaar

‘n Beswaar teen ‘n waardasie het onlangs in die Hoë Hof gedraai.

  • Die geregistreerde eienaar was ‘n trust. ‘n Trustee het die rede vir die beswaar as volg aan die munisipaliteit gestel. “Die eiendom staan al vir 18 maande leeg. Die eiendomsmark het gedaal. Die waarde van my eiendom moet gevolglik ook verminder word.”
  • Die trust het die hof genader om die munisipaliteit te verplig om voldoende redes te gee vir die afwysing van hul beswaar.

Die beswaarmaker moet redes aanvoer

Die hof bevind teen die eienaar. “Hierdie was bloot ‘n beswaar in naam, sonder dat die eienaar enige grondige redes aangevoer het. Geen besware is gemaak oor die optrede van die munisipale waardeerder of die metodiek wat gevolg is nie, soos wat voorsien word in die Wet op Munisipale Eiendomsbelastings nie. Geen inligting is voorgehou wat die munisipale waardasie in konteks plaas of verkeerd bewys nie.”

Die boodskap is duidelik – as jy net ‘n kriptiese beswaar gaan indien, hoef die munisipaliteit nie redes aan te voer vir hul waardasie nie. Aan die ander kant sal jy wel geregtig wees op redes, as jy ‘n volledige en gemotiveerde beswaar indien.

Indien u met ons in verbinding wil tree ten opsigte van enige aspek wat hierin vermeld word, stuur asb ‘n epos aan info@chrisfick.co.za

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)