Chris Fick & Associates

“As dit te goed klink om waar te wees, is dit waarskynlik die geval.”

Piramideskemas weereens in die nuus.

Ons hoor dikwels van ‘n nuwe groep mense wat vir nog ‘n piramideskema geval het. Dit is nie net desperate pensioenarisse of lae-loontrekkers wat om die bos gelei word nie. Selfs ervare sakemense en kundige beleggers word soms gekul. Die rede is natuurlik dat die swendelaars wat agter hierdie skemas sit, meesters van die kuns is om die ware aard van die skema weg te steek. Hulle kom met al hoe meer kreatiewe stories vorendag om slagoffers te lok. Sogenaamde “Ponzi” skemas is juis gewild omdat die meesterbrein daaragter belowe om na alles om te sien; al wat jy moet doen is om te “belê” en terug te sit om jou winste te sien inrol.

Moet nie nog ‘n slagoffer raak nie!

Werkgewers sal hul werknemers dus ‘n guns doen deur hul personeel te waarsku en in te lig oor hoe om sulke skemas te identifiseer en te vermy.

Kyk gerus na Sanlam se inligtingsgrafika hieronder vir ‘n paar klassieke waarskuwingstekens wat ons met toestemming hier met julle deel.

blog image

Bron: Sanlam Employee Benefits. Gebruik met die toestemming van http://thinkvisually.co/portfolio/ponzi-schemes-sanlam/.

Dit help ook nie altyd dat jy van die eerstes was wat jou belegging onttrek het nie

Piramideskemas maak daarop staat dat slagoffers hul agterdog opsy gaan skuif in die ewige hoop dat hulle van die min (12%) mense sal wees wat vroeg genoeg hulle beleggings onttrek en hul hoë opbrengste sal geniet. Selfs al is die skema onwettig en al is dit gedoem tot ‘n uiteindelike ineenstorting, glo hulle dat hulle wel vir ‘n tyd nog die hoë opbrengste gaan skep en geniet, terwyl die verliese aan die laatkommers (88%) nagelaat gaan word.

In werklikheid is diegene wat vroeg onttrek het ook op risiko om nie net hul “winste” nie, maar ook hul oorspronklike beleggings te verloor.

Die rede hiervoor is dat ‘n likwidateur (of “trustee” in die geval van ‘n individu of ‘n trust) enige gelde wat die skema in die ses maande voor likwidasie uitbetaal het,  kan terugvorder. Sodanige gelde sal terugbetaal moet word, tensy die ontvanger daarvan kan bewys dat die uitbetaling in die gewone gang van sake en sonder enige voorneme om een skuldeiser bo die ander te bevoordeel, gemaak is. Let daarop dat beleggers wat uitbetalings ontvang het op ‘n tyd langer as ses maande voor likwidasie, ook nie veilig is nie. Hierdie betalings kan ook ingevorder word, hoewel die bewyslas dan op die likwidateur rus.

‘n Saak wat onlangs in die Hoogste Hof van Appèl gedien het, illustreer die beginsels ter sprake.

Hoe ‘n onskuldige belegger R224,000 verloor het

  • ‘n Trust het beleggers na hul piramideskema gelok met beloftes van ‘n wettige en lewensvatbare skema. Hul het voorgegee dat die skema nie in stryd was met enige statutêre of regulerende bepalings nie en ook nie ‘n piramideskema was nie. Die trust sou die beleggers se deposito’s aanwend om kommissie-aansprake van eiendomsagente, wat reeds verwerf is, maar wat nog nie uitbetaal is nie, teen ‘n afslag aan te koop.
  • Die skema het later in duie gestort, die trust is gesekwestreer en die aanvanklike trustees is aan strafregtelike oortredings skuldig bevind.
  • Die opvolgende trustees wat deur die Meester aangestel is om die gesekwestreerde trust te administreer, het ‘n belegger gedagvaar vir sy ontvangs van onbehoorlike voorkeure ten bedrae van R224,000. Dit het bestaan uit –
    •  ‘n Aanvanklike belegging van R100,000 wat na drie maande terugbetaal is, tesame met die rente daarop van R12,000 (dit gee ‘n effektiewe rentekoers van 42%), en
    • ‘n Daaropvolgende belegging van R100,000 wat na twee maande terugbetaal is, tesame met rente daarop van R12,000 (dit gee ‘n effektiewe rentekoers van 74%)
  • Die belegger het die betaling ontvang binne ses maande voor sekwestrasie. Die onus was dus op hom om te bewys dat die betalings in die gewone loop van sake gemaak is.
  • Soos te wagte kon die belegger nie daarin slaag om sy verweer te bewys nie. Die Appèlhof bevind dat die betalings duidelik, op ‘n feitelike en objektiewe basis nie in die gewone loop van sake gemaak was nie. Al het die belegger geen kennis van die ware aard en onwettigheid van die skema gehad nie, moet hy steeds die gesekwestreerde trust terugbetaal. Die belegger moes beide die rente van R24,000 en die aanvanklike kapitaal van R200,000 terugbetaal, tesame met verdere rente daarop en regskoste. Hy sal op sy beurt natuurlik steeds ‘n konkurrente eis teen die gesekwestreerde trust hê, maar sodanige eis is in alle waarskynlikheid van nul en gener waarde.

Die slotsom –  neem regsadvies!

Neem regsadvies voordat jy jou geld in enige skema wat verdagte hoë opbrengste belowe, toevertrou. Indien jy sou besluit om wel voort te gaan met sodanige belegging, maak seker dat jy dit kan bekostig om die risiko te loop om alles te verloor – dit gaan heel moontlik gebeur.

Indien jy egter reeds belê het en jy daarna te hore kom van enige onreëlmatighede of onwettige aktiwiteite, moet jy onmiddellik regsadvies inwin. Uit die uitspraak blyk dit dat ‘n belegger se eis sterker sou gewees het, indien hy bewus geword het van ‘n onwettige skema en sy kapitaal dan dadelik opgeëis het. Die belegger moet sy kapitaal dan eerder opeis, nie op grond van die skema se verpligting om hom as ‘n belegger terug te betaal nie, maar wel op grond daarvan dat die belegging vanuit die staanspoor af onwettig en nietig was.

Hierdie onderskeid is belangrik en kon dalk die uitbetaling van R200,000 wat aan hom gemaak is, gered het.

Indien u met ons in verbinding wil tree ten opsigte van enige aspek wat hierin vermeld word, stuur asb ‘n epos aan info@chrisfick.co.za

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)