Chris Fick & Associates

Ons 4 tot 8 weke opleidingsprogram het in Augustus 2015 begin en is daarop gerig om die ondervinding en vaardighede te verbeter van werklose jongmense wat afkomstig is uit die Kaapse “townships”. Ons moedig hierdie jongmense aan om vaardighede te ontwikkel en administratiewe ondervinding op te doen in ’n formele werksomgewing.

Ons kandidate word gekies vanuit die woongebiede rondom Kaapstad deur Mev Suzette Ndovie, ‘n onafhanklike persoon wat self in die “townships” woon en wat betrokke is by verskeie ander projekte in haar gemeenskap waarmee sy help om volwassenes selfstandig en finansieel selfversorgend te maak.

Die program bied geleenthede aan ons kandidate om hulleself te bemagtig met in-diens werksondervinding, en om hul profiele te bou sodat hulle meer bemarkbaar kan wees op verskillende diensvlakke. Die kandidate is betrokke met werklike werksopdragte wat ons as waardevol beskou in die werksomgewing.

‘n Groot deel van ons program behels werkskadu met verskeie lede van ons werkspan, opleiding in kantoorvaardighede, die bekendstelling en blootstelling aan verskeie Staatskantore soos die Akteskantoor, Meesterskantoor, die Hooggeregshof, Landdroshof, Munisipaliteit, Ontvanger van Inkomste, Poskantoor en Docex, en om take te verrig by hierdie onderskeie kantore en instellings.  Die kandidate word ook blootgestel aan bode-take, pos-voorbereiding, argiefliassering, betekening en liassering van hofstukke, kantoorliassering, rekenaarvaardighede en basiese navorsing, telefoon-etiket en ander algemene kantoorfunksies. Bo en behalwe hierdie praktiese vaardighede, moedig ons hulle aan om te lees en selfonderrig te doen.

Gouwa, Lindile, Luciane en Hajira het werksaanstellings gekry na afloop van hul betrokkenheid by die program. Mzu het sy swaarvoertuiglisensie verwerf en Welcome is besig om sy matriek klaar te maak.

Om meer uit te vind oor die program en ons kandidate en om te oorweeg om een van hulle tydelik, deeltyds of voltyds aan te stel, kontak ons gerus in daardie verband by info@chrisfick.co.za en 021-424 3937.