Chris Fick & Associates

“The concept of chivalry is beyond his comprehension and lies dead and buried in his mind, if it ever existed.” (Kritiese opmerking oor die deurlopende gedrag van die man in die regter se uitspraak hieronder.)

Dit staan mense in die algemeen vry om wettige ooreenkomste met mekaar te sluit en ons regstelsel sal dit eerbiedig en afdwing. Daar is wel perke en ‘n onlangse bittere huweliksdispuut wat in die Hoë Hof afgehandel is, illustreer die beginsel.

Aan die een kant het ons ‘n gesiene en senior advokaat wat reeds een keer in sy lewe ‘n omvangryke en duur egskeiding deurgemaak het. Hy was vas van voorneme om nie weer sy persoonlike boedel aan sulke risiko bloot te stel nie. Hy het die nodige stappe geneem om by ‘n latere huweliksluiting ongekende beskerming in die huweliksgenote se ooreenkoms in te bou.

Sy nuwe vrou was beskryf as baie aantreklik en baie jonger as hy. Sy was van Duitse oorsprong en ten tyde van huweliksluiting was sy naïef en vatbaar vir enigiets wat hy aan haar sou voorhou.

Van sy kant af wou hy seker maak dat sy welvaart ten volle beskerm sou word, in geval sy tweede huwelik ook eendag in die skeihof sou eindig. Die partye het uitdruklik ooreengekom dat sy in geheel afstand doen van enige toekomstige eis vir onderhoud; by huweliksluiting moes hy egter sekere donasies aan haar maak. Die ooreengekome verbod op enige onderhoudsaanspraak het wye en algemene werking gehad. Dit sou van toepassing wees by egskeiding vir watter rede ook al, sonder dat die partye se optrede en gedrag tydens die huwelik oorweeg en in ag geneem kon word.

Die partye het geen beperking geplaas op onderhoud vir enige kinders wat uit die huwelik gebore sou word nie.

Ten tyde van sluiting van die huweliksooreenkoms was sy reeds ver swanger met hul eerste kind. Hy het druk op haar gesit om die ooreenkoms te teken en te aanvaar dat hy graag ‘n pa vir hul ongebore kind wou wees.

Vier en twintig jaar later het hierdie tweede huwelik ongelukkig tot ‘n einde gekom. Twee kinders is uit die partye se huwelik gebore. Die man wou die bepalings van die HVK afdwing, insluitende die bepaling dat sy afstand gedoen het van enige reg op persoonlike onderhoud.

Nie so maklik nie.

Die hof ken persoonlike onderhoud van R30 000 per maand, tesame met gratis akkommodasie aan haar toe.

Die hof bevind dat die klousule dat sy nie geregtig op persoonlike onderhoud sou wees nie, nie afdwingbaar was nie aangesien dit onredelik, onregverdig en nietig was.

Die hof behou ‘n inherente jursidiksie oor onderhoudsaangeleenthede en dit sal ongrondwetlik wees indien ‘n party verhoed word om so ‘n aanspraak in die hof te laat bereg. So ‘n algemene weerhouding van ‘n party se regte en remedies is beslis teen die openbare belang en gevolglik ongeldig, aldus die hof se uitspraak.

Dit was die een gedeelte van die hofbevel. Die partye se huweliksbedeling het wel voorsiening gemaak vir die toepassing van die aanwasbedeling. Hiervolgens ken die hof die helfte van die man se batewaarde aan haar toe. Die man se totale batewaarde word as ongeveer R22 miljoen aangedui.

Dit ten spyte van sy aanduidings dat sy boedel geen aanwas getoon het nie. Die hof bevind verder dat die man uit sy pad gegaan het om sy werklike batewaarde te verdoesel en om sy vrou se regmatige aanspraak op aanwas te omseil.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)