Chris Fick & Associates

Dwight Eisenhower was van mening dat die dood van ‘n kind die grootste tragedie in die lewe was.

‘n Onlangse uitspraak in die Hoë Hof beklemtoon weereens die persoonlike tragedie en ook die regsgevolge van die versuim om kinders teen die gevare van swembaddens te beskerm.

Die feite

  • Die betrokke eiendom het ‘n swembad gehad en die swembad  was met twee ingangshekke omhein. Dit het ook ‘n dam gehad vir koi-visse wat nie omhein of bedek was nie.
  • ‘n Kind van 2½ jaar oud het elke week saam met haar moeder ‘n selgroep-vergadering by die betrokke eiendom bygewoon.
  • Die swembad se hekke is deur twee afsonderlike knippe beskerm. Kinders kon die hekke dus nie self oopmaak nie. Ongelukkig is die hek op ten minste vyf geleenthede voor die tragedie oopgelaat. Die moeder van die kind het dit self aan die eienaar se vrou uitgewys, wat onderneem het om seker te maak dat die hek in die toekoms altyd toegehou sou word.
  • Op die betrokke dag was die moeder se aandag onverwags afgelei. Haar kind was vir ‘n kort periode van twee tot drie minute nie in haar sig nie.
  • Ongelukkig was dit genoeg tyd vir haar kind om in die swembad te val, waar hulle haar kort daarna drywend gevind het, met haar gesig onder die water. Hulle kon daarin slaag om haar by te bring, maar die kind het reeds ernstige breinskade opgedoen.
  • Die ouers van die kind het die huiseienaar en sy vrou gedagvaar. Die vrou was ten tyde van die ongeluk die persoon in beheer van die eiendom. Die ouers het namens hul dogter en ook in hul persoonlike hoedanigheid die bedrag van R62 miljoen geëis.
  • Die partye het teenstrydige weergawes en getuienis voor die hof geplaas. Die hof bevind dat die hek waarskynlik wel oopgelaat was. Of dit ‘n outomatiese sluitingsmeganisme bevat het, al dan nie, dit was onvoldoende om die hek toe te sluit.

Wie is aanspreeklik?

Gegewe die feite van die saak bevind die hof dat nalatigheid aan verskillende partye toegedeel kan word:

  • Die huiseienaar moes geweet het dat die swembad ooglopende gevare vir klein kinders inhou. Sy versuim om te verseker dat die hek die swembad behoorlik beskerm deur ‘n outomatiese sluitingsmeganisme of -slot te installeer, maak hom gedeeltelik aanspreeklik.
  • Die vrou van die huiseienaar was aanspreeklik omdat sy nie seker gemaak het dat die hek ten alle tye gesluit was nie, soos wat sy reeds voorheen onderneem het om te doen nie.
  • Die hof bevind dat die moeder van die kind bydraend nalatig was. Sy het immers haar dogtertjie sonder toesig gelaat, terwyl sy ten volle bewus was van die gevare wat die swembad vir ‘n klein kindjie sou inhou.

Die huiseienaar en sy vrou is dus verantwoordelik vir alle skade wat die kind se ouers kan bewys. Die moeder se persoonlike eis sal met 30% verminder word om haar bydraende nalatigheid te weerspieël. Die werklike skade wat namens die kind bewys word, sal egter 100% betaalbaar wees.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)