Chris Fick & Associates

‘n Mens sal graag wil hê dat die reg vir alle litigante toeganklik moet wees. Ongelukkig is die kostes van litigasie in die hoër howe ‘n wesentlike faktor. Dit beteken dat diegene wat hul saak in die hoër howe wil voer, diep sakke en senuwees van staal moet hê.

Daar is wel iets wat toenemend in die buitewêreld gebruik word en ook meer onlangs in ons land sy verskyning gemaak het, naamlik litigasiebefondsing.

Die sogenaamde “Please Call Me” saak is op hierdie manier tot in die Grondwetlike Hof deurgevoer. Dit is die bekendste geval van litigasiebefondsing en dui daarop dat dit wel gebruik kan word. Sommige litigasiefondse fokus slegs op handelsake, terwyl ander ‘n wyer spektrum van sake dek.

Hoe dit werk

‘n Litigasiefonds sal by ooreenkoms verantwoordelikheid aanvaar, vir die betaling van alle regskostes wat ‘n eiser het om sy saak by die hof in te stel en deur te voer. In ruil hiervoor neem die fonds dan ‘n gedeelte van die opbrengs indien die eis suksesvol deurgevoer word. Die gedeelte kan verskil, maar dit lyk of dit wissel tussen 40% en 55% van die uitbetaling. Dit klink na ‘n groot hap wat geneem word. Onthou egter die spreekwoord – ‘n halwe eier is beter as ‘n leë dop. As litigasie beteken dat jy alles op die spel moet plaas, is hierdie dalk ‘n opsie wat jou in die aand rustiger sal laat slaap.

Indien jou eis onsuksesvol is, kry die litigasiefonds ook niks nie. Die fonds sal ook nie na jou kyk vir enige bydraes nie en die fonds bly ook aanspreeklik vir enige kostebevele teen jou om die ander party se regskostes te betaal.

Jy het dus geen risiko nie – as ons aanvaar dat dit is wat jou ooreenkoms met die litigasiefonds bepaal. Van jou kant af moet jy volledig saamwerk en alle inligting aan jou fonds verskaf, jy sal moet konsulteer met die aangewese regsverteenwoordigers en deskundiges en jy sal waarskynlik jou getuienis in die hof moet aanbied. Dit is ook van kritieke belang dat die litigasiefonds wat jy gaan kies, die saak tot die einde sal deurvoer en finansieel sterk genoeg is om enige resultaat te hanteer. Anders sit jy met die spreekwoordelike gebakte pere.

Eisers sou in die verlede hul regsverteenwoordigers opdrag kon gee ingevolge die bepalings van die Wet op Gebeurlikheidsfooie. Nie alle regsverteenwoordigers aanvaar egter sulke opdragte nie. ‘n Eiser sou ook sy eis  aan iemand anders kon verkoop, wat dan in geheel sessie sou neem van die eis. Die eiser sou dan slegs ‘n breukdeel van die eis ontvang, maar sal dan die voordeel hê om onmiddellik kontant in die sak te kry, sonder die vertraging wat ‘n hofsaak meebring.

Litigasiebefondsing is dus ‘n verdere opsie wat tot ‘n eiser se beskikking is. Ondersoek al die moontlikhede saam met jou regsverteenwoordiger en besluit dan welke opsie, in jou spesifieke geval, die beste is om jou eis deur te voer.

Wanneer sal jy litigasiebefondsing oorweeg?

  • Jou eis is sterk op die meriete. Jy het ‘n sterk saak en daar is oortuigende getuienis wat dit sal ondersteun, verkieslik met skriftelike en dokumentêre bewysstukke.
  • Die party wat jy wil dagvaar is finansieel gesond en daar is geen aanduiding dat dit gaan verander nie.
  • Die persoon of entiteit wat jy moet dagvaar het gewoonlik geen tekort aan befondsing nie en is bekend as ‘n intimiderende litigant. Die party skroom nie om geld op litigasie te spandeer nie, het dieper sakke as jy, sal van tegniese en vertragingstegnieke gebruik maak om die litigasie uit te rek, sal dikwels ‘n eiser kry om handdoek in te gooi of om in desperaatheid vir ‘n mindere bedrag te skik.
  • Die eiser is seker van sy saak en die onderliggende beginsels ter sprake en is bereid en vasbeslote om die litigasie tot die einde deur te voer.

Litigasiebefondsers sal die saak in oorleg met jou regsverteenwoordigers bestuur. Hulle het ook ‘n direkte belang daarin om jou saak tot die einde deur te voer en ‘n suksesvolle uitkoms te verseker.

Die proses

Wanneer jy ‘n litigasiefonds nader, sal die partye uit die staanspoor ‘n vertroulikheidsooreenkoms teken. Jy sal dan jou eis kan openbaar en uiteensit en hulle sal die eis kan ondersoek en oorweeg. Dit het twee gevolge – die befondser kan nie die vertroulike inligting aan iemand anders openbaar nie en dit beteken ook dat enige geprivilegeerde dokumentasie so sal bly vir doeleindes van ‘n latere verhoor.

Soos met ‘n versekeringsaansoek, moet jy alle dokumentasie en inligting openbaar. Dit hou in dat dokumentasie en inligting wat jou saak ondersteun, sowel as dit wat jou saak verswak en die teenoorgestelde standpunt staaf, ook in geheel aan die befondser beskikbaar gestel moet word.

Die litigasiefonds moet in die beste moontlike posisie geplaas word om ‘n ingeligte besluit oor die meriete van die eis te maak. Dink maar aan die soortgelyke verpligting wat op jou rus wanneer jy aansoek doen vir dekking by ‘n mediese fonds of versekeraar. Feite, korrespondensie en dokumentasie wat later uitkom wat ‘n direkte invloed op die saak het, kan vir jou probleme veroorsaak. In uiterste gevalle, sal die fonds dalk ‘n skadevergoedingseis teen jou hê, indien jy onvolledige inligting deurgegee het tydens die oorweging van die eis.

Indien die fonds tevrede is met die meriete van die eis en die eis in hul befondsingsmandaat pas, sal die partye ‘n befondsingsooreenkoms sluit. Die partye se verpligtinge teenoor mekaar word daarin ooreengekom. Die befondser se verpligting om die litigasie te befonds, die eiser se verpligting om aktief deel te neem en om die eis tot die einde deur te voer en dan natuurlik, ‘n duidelike uiteensetting oor hoe die opbrengs van ‘n suksesvolle eis tussen die deelnemende partye verdeel sal word.

‘n Gelyke speelveld

Litigasiefondse word met groot welslae in die VSA, die Verenigde Koninkryk en in Australië gebruik. Dit stel eisers in staat om billike vergoeding op hul eise te kry en het die speelveld gelyk gemaak sodat individue en mediumgrootte besighede op gelyke voet teen korporatiewe entiteite kan litigeer. Vir dieselfde redes behoort dit ook in Suid-Afrika aanklank te vind.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)