Chris Fick & Associates

Ons Maatskappywet van 2008 is sedert 2011 in werking. Die nuwe wet plaas ‘n hele lys van bykomende verantwoordelikhede en risiko’s op direkteure en  beamptes. Die gevalle waar maatskappydirekteure persoonlik aanspreeklik gehou kan word is ook in die wet uitgebrei.

So vind ons artikel 218(2) aan die einde van die wet onder “Diverse aangeleenthede” wat as volg lees: “Enige persoon wat enige bepaling van hierdie Wet oortree, is aanspreeklik teenoor enige ander persoon vir enige verlies of skade wat daardie persoon as gevolg van daardie oortreding gely het.”

Die bewoording is wyd –

  • Enige persoon wat onder verpligting is om die wet na te kom – nie net direkteure nie, word hierdeur geraak.
  • Hulle kan aanspreeklik gehou word vir enige skade of verlies wat direk spruit uit enige oortreding van die wet.
  • Hulle kan persoonlik aanspreeklik gehou word deur enigiemand wat enige verlies of skade gely het – dit sluit in die maatskappy self, aandeelhouers, werknemers, skuldeisers, verskaffers, kliënte, kontrakteurs ensovoorts.

Hierdie bepaling is al suksesvol gebruik om maatskappydirekteure persoonlik aanspreeklik te hou vir die verpligtinge van die maatskappy.

Twee direkteure moet R1,5 miljoen opdok

In ‘n onlangse geval in die Hoë Hof in Gauteng het ‘n maatskappy (wat uiteindelik gelikwideer is) oor tyd versuim om R1,5 miljoen se verskuldigde heffings, voorsorgfondsbydraes en salarisaftrekkings aan die toepaslike bedingingsraad oor te betaal. Die hof bevind dat die twee direkteure grof nalatig en roekeloos met hierdie geld omgegaan het. Hulle optrede was nie net bedrieglik teenoor die bedingingsraad nie, maar ook teenoor die werknemers wie se bydraes van hulle salarisse afgetrek is, sonder dat dit daarna tot  voordeel van die werknemers oorbetaal is.

Die hof maak die bevel dat die direkteure persoonlik aanspreeklik gehou word om hierdie bedrae uit hul persoonlike fondse en bates aan die bedingingsraad oor te betaal.

Hierdie was natuurlik blatante en ernstige oortredings van die maatskappywet. Die bewoording van die wet dui egter daarop dat selfs mindere of tegniese oortredings van die wet, aanleiding kan gee tot persoonlike aanspreeklikheid.  Wees dus bedag hierop.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)