Chris Fick & Associates

“As jy kopiereg steel word dit dan kopieverkeerd?” (Anoniem)

Die Hoë Hof het onlangs uitspraak gelewer in die dispuut tussen Moneyweb en Fin24. Die hof bevind dat Fin24 met ‘n enkele artikel wel op Moneyweb se kopiereg inbreuk gemaak het. Die hof bevind egter teen Moneyweb in die ses ander artikels onder oorweging. Die hof beveel Moneyweb dan om 70% van Fin 24 se regskostes te betaal.

Beide partye het iets positiefs uit die uitspraak geneem. Die belangrikste boodskap is egter dat oorspronklike kreatiewe werke wel kopiereg geniet, al word die werke op ‘n openbare, aanlyn platform gepubliseer.

‘n Opsomming van kopiereg

Kom ons begin by die Wet op Kopiereg. Dit beskerm al sedert 1978 die skeppers van oorspronklike werke – letterkunde, musiek, kuns, fotografie, en meer onlangs ook rekenaarprogrammering, webwerfontwerp en verwante skeppings– teen plagiaat. Die doel is om kreatiwiteit aan te moedig, sonder om die balans tussen die regte van die skepper van oorspronklike werke en die van die algemene publiek te versteur.

Sodra jy ‘n oorspronklike werk geskep het, word dit deur kopiereg beskerm.  Dit is ook nie nodig vir enige papierwerk of formele registrasie nie. Jou beskerming strek ook internasionaal in alle lande wat lid is van die Bern Konvensie (sien die kaart). Dit is ook nie ‘n vereiste dat jou werke met die kopiereg teken “©” gemerk word nie, maar dit is wel goeie praktyk om dit saam met jou naam en die jaar van skepping op jou werke aan te bring.

Indien jou kopiereg geskend word, kan jy skadevergoeding eis van die party ter sprake en jy kan ook vra dat die skending gestaak word.

Wat moet in die aanlyn omgewing gebeur? Wat is die gebruike en wat is aanvaarbaar? Is dit voldoende as jy die bron van die werke vermeld?

Tot nou toe was daar onduidelikheid oor hoe die verdere publisering van werke wat reeds aanlyn gepubliseer is, hanteer moes word. Daar is ‘n algemene mistasting dat enigiets wat op die internet gepubliseer is, sonder meer en sonder toestemming deur ander gebruik kan word. Dit is natuurlik nie reg nie en ons het nou regspraak wat duideliker riglyne hieroor gee. Skeppers van oorspronklike werke wat hul werke aanlyn publiseer, asook diegene wat hierdie werke wil gebruik en ook weer wil publiseer, moet gerus hierna oplet.

Die posisie kan kortliks as volg opgesom word (verkry asseblief verdere en toegepaste advies oor die spesifieke omstandighede van jou geval)-

  • Die werk moet oorspronklik wees om beskerming te geniet. Dit verg dus voldoende insette aan die kant van die skepper, dit kan nie slegs ‘n navolging van ‘n ander se werke wees nie en dit is die skepper wat die oorspronklikheid van sy werke moet kan aantoon.
  • Dit is nie nodig om aan te toon dat die werke woord vir woord herhaal is nie. Kopiereg word verbreek wanneer ‘n wesentlike gedeelte van die werke herhaal word. Die hof moet hier ‘n waardebepaling doen en kyk na die werke. Die hof sal meer op die essensie en inhoud van die werke wat herhaal word fokus, as bloot net ondersoek instel na die omvang van die herhaling.
  • Soos altyd is daar ook uitsonderings. Daar is geen kopiereg beskerming vir wetgewing, politieke toesprake en die daaglikse nuus afkomstig uit persverklarings en verwante inligting nie. Dit was veral van deurslaggewende belang in hierdie Moneyweb aangeleentheid.
  • “Billike gebruik” is ‘n verweer wat beskikbaar is vir gebruikers en her-publiseerders van letterkundige en musikale werke vir navorsing, private studie, persoonlike gebruik, kritiek of beoordeling en verslaggewing oor die sake van die dag. ‘n Her-publiseerder wat hom op billike gebruik wil beroep, moet dit kan bewys. Die hof sal eweneens ‘n waardebepaling maak na oorweging van al die relevante feite. Waar die billike gebruik bewys is, moet die naam van die skepper en die bron waar dit voorheen publiseer is, vermeld word. Die hof bevind dat ‘n skakel na die oorspronklike artikel, tesame met ‘n verwysing na die skepper se naam, voldoende was.

Deur bloot erkenning aan die oorspronklike werk te gee – selfs met ‘n skakel na die oorspronklike publikasie – is nie voldoende om billike gebruik te bewerkstellig nie. Billike gebruik moet nog steeds as ‘n verweer bewys word. Anders moet jy die houer van die kopiereg se toestemming verkry, voordat jy die werke mag her-publiseer.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)