Chris Fick & Associates

“As die hemel val, is ons almal dood.” Afrikaanse spreekwoord.

Of jy nou jonk of jonk van gees is, gesond is of grondpad geloop het, ‘n lewensmaat het of jou eie potjie krap, ‘n testament moet jy hê. Daarsonder kom jy intestaat tot sterwe. Dit beteken jy besluit nie self hoe jou boedel vererf nie. Jy besluit nie self wie wat moet erf nie, ook nie hoe jou kinders versorg en hoe jou geldelike voorsiening vir hulle hanteer moet word nie, ook nie wie die boedel moet administreer en toedeel nie. Dit maak tog sin om jou naasbestaandes teen hierdie praktiese en finansiële risiko’s te beskerm.

As jy nie ‘n testament het nie, sorg dat hierdie oorsig aangespreek word. 

Hou die volgende in gedagte.

Kry professionele hulp

Moet eerder nie ‘n standaard testament gebruik of ‘n vriend se testament net so oorskryf nie. Hier is net te veel op die spel om enige kanse te vat. Natuurlik moet jou testament aan die regstegniese vereistes voldoen, maar daar is ook wyer praktiese oorwegings wat ondersoek en hanteer moet word met die opstel van jou testament.

‘n Testament wat swak opgestel is, kan in geheel ongeldig wees, dit kan geleenthede vir die besparing van belasting en boedelbelasting mis, dit kan onduidelik wees en aanleiding gee tot onsekerhede en geskille. Ons hofverslae bevat tragiese en bittere familiedispute wat direk toegeskryf kan word aan testamente waarin die oorledene se aanwysings en wense nie duidelik uiteengesit is nie. Hierdie onaangenaamheid, vernedering en verkwisting kan grootliks deur ‘n testament wat professioneel opgestel is, vermy word.

Benoem self jou eksekuteurs

Jou boedel sal deur ‘n eksekuteur of gesamentlike eksekuteurs beredder en verdeel word. Indien jy iemand soos jou lewensmaat wil aanwys wat nie ‘n professionele beredderaar is nie, gaan hy of sy professionele hulp benodig. Jy kan dus oorweeg om ‘n professionele beredderaar as ‘n gesamentlike eksekuteur aan te stel. Stel dan iemand aan met die nodige integriteit en professionaliteit wat jy ten volle daarmee kan vertrou. Jy gaan mos nie by wees om jou oog op die situasie te hou nie!

‘n Praktiese riglyn vir jou naasbestaandes  

Na afsterwe is die fondse in jou bankrekeninge nie toeganklik nie en bates word gevries totdat die eksekuteurs aangestel word. Na hul aanstelling kan die eksekuteurs beheer neem oor die bates en rekeninge, maar boedels neem maande en dikwels langer om afgehandel te word. Jy moet dus die nodige reëlings tref en seker maak dat jou naasbestaandes toegang tot voldoende fondse het om die huishouding vir ‘n hele paar maande aan die gang te hou. Bespreek gerus die gepaste opsie met jou adviseurs. Dink aan aparte bankrekeninge en beleggings, versekeringspolisse wat direk aan jou benoemde begunstigdes sal uitbetaal met jou afsterwe,  en ook aan bates wat reeds in familietrusts gehou word.

Met jou afsterwe gaan jou gesin en jou familie in skok wees. Kry jou sake in orde en hou ‘n lêer met die volgende byderhand:

  • Begin met ‘n lys met die name en kontakbesonderhede van diegene wat jou gesin en familie kan kontak vir ondersteuning en advies. Die name en kontakbesonderhede van jou prokureur, rekenmeester, belastingpraktisyn, versekeringsmakelaar, mediese fondsadviseur, dokter, finansiële beplanner, beleggingsbestuurder, bankier, werkgewer, werknemers, vennote en so aan.
  • ‘n Afskrif van jou testament en die kontakbesonderhede van jou eksekuteur. (Jou benoemde eksekuteur behoort reeds jou oorspronklike testament in veilige bewaring te hou.)
  • Jy kan skriftelike riglyne gee oor jou begrafnisreëlings; soos moet jy begrawe of veras word.
  • Besonderhede oor jou mediese fonds asook besonderhede oor ‘n begrafnispolis of begrafnisplan of fondse wat daarvoor opsy gesit is.
  • Afskrifte van verskillende ID dokumente – jou eie, jou lewensmaat, jul kinders, ander afhanklikes of erfgename, benoemde voogde ensovoorts.
  • Belangrike gesinsdokumente soos huweliksertifikate, geboortesertifikate, huweliksvoorwaardekontrakte, saamwoon ooreenkomste, egskeidingsbevele om die belangrikstes te noem.
  • ‘n Volledige lys van jou bates (met besonderhede van alle belangrike bates asook besonderhede van lenings aan kennisse en familie) en ook besonderhede oor jou laste.
  • Besonderhede van bankrekeninge, insluitende spaarrekeninge en kredietkaarte, beleggings, lewenspolisse, pensioenfondse, annuïteite en aandeelhouding.
  • Besonderhede van maatskappye en trusts waarin jy en jou gesin belange in het of begunstigdes van is.
  • ‘n Lys van jou maandelikse, herhalende uitgawes en aftrekorders.
  • Belangrike dokumente rakende jou bates en laste – titelaktes, registrasiedokumente van voertuie, huurooreenkomste, leningsooreenkomste, versekeringspolisse, belastingopgawes, belastingrekords, in wese alle dokumente wat jou gesin en jou eksekuteurs van hulp kan wees wanneer jy nie meer daar is om dit uit te wys nie.
  • Notas oor waar om dinge in die hande te kry soos brandkluise, spaar sleutels, vuurwapenkluise, ander dokumente, wagwoorde en ontsluitingskodes (meer hieroor volg hieronder).
  • Notas oor hoe om ontsluitingskodes, PIN nommers en toegangskodes oor te dra en te verkry. In die elektroniese era waarin ons leef, is hierdie van uiterste belang, maar dit word dikwels oor die hoof gesien met die  voorbereiding vir hierdie laaste oorgawe. Jou naasbestaandes gaan toegang benodig tot jou rekenaars, jou telefoon, jou tablet, jou aanlynrekeninge en portefeuljes, jou betalingsportale, jou e-posse, jou Sosiale Mediablaaie en so aan. Vir sinvolle riglyne oor hoe om dit op ‘n veilige manier te doen, lees gerus die artikel “Making Life Easier for Your Heirs in a Digital World” op Siller & Cohen se webwerf  http://cdn.sqlogin.com/prod/sq_uploads/sillerandcohen.com/documents/quarterly-letters/2n-Qtr-2013—Making-Lie-Easier-or-Your-Heirs-in-a-Digital-Worl.3GTtM.pdf. Indien jy iets soos “LastPass” www.lastpass.com gebruik om jou wagwoorde te bestuur, kyk na hul funksies soos “Emergency Access” om wagwoorde met jou eksekuteur en erfgename te deel en “Secure Notes” om inligting soos PIN, kluis en alarmkodes oor te dra asook inligting oor waar verskillende sleutels te vinde is.
  • Enigiets anders wat jou naasbestaandes of adviseurs gaan benodig – hoor by hulle wat hulle gaan benodig en of daar nog iets is waaraan hulle kan dink.

Waar daar afskrifte van jou dokumente in jou lêer is, dui dan ook aan waar die oorspronklike dokumente gevind kan word.

Bêre jou lêer op ‘n veilige plek. Maak dit duidelik aan jou naasbestaandes waar dit gehou word en hoe hulle toegang kan kry wanneer die tyd aanbreek. Dit help nie jy sit dit in jou kluis en niemand weet waar die kluis se sleutel gebêre word nie.

Maak ‘n punt daarvan om dit gereeld te hersien  

Die lewe gaan aan en snel voort. Jy en jou gesinslede is deel van die siklus van die lewe en gebeurtenisse – huwelike, geboortes, sterftes, egskeidings, aftrede, aannemings, gesondheidskwessies, nuwe gesinsomstandighede en soortgelyke uitdagings bring mee dat jy jou testament van tyd tot tyd moet afstof en bywerk. Sit tyd hiervoor opsy in jou dagboek en raadpleeg jou adviseurs om seker te maak dat enige wysigings aan jou testament geldig is en ook tot voordeel is van jou naasbestaandes.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)