Chris Fick & Associates

“Hierdie saak illustreer weereens dat mens met omsigtigheid met ‘n trust moet sake doen.” (Vry vertaalde aanhaling uit die uitspraak hieronder.)

Die meeste van ons gaan slegs in saketransaksies met trusts te doene kry, waar ons eiendom koop wat aan ‘n trust behoort; of eiendom in ‘n trust koop. Dit bly egter van uiterste belang dat jou prokureur seker maak dat die persoon of persone wat die dokumente namens die trust onderteken, wel ten volle gemagtig is om die trust te bind.

Saak verlore as gevolg van gebrekkige magtiging

Indien jy nie seker maak dat die persoon wat namens die trust optree en teken ten volle gemagtig is om dit te doen nie, gaan dit probleme veroorsaak wanneer jy die ooreenkoms wil afdwing. Dit is wat hier gebeur het toe ‘n bank ‘n persoonlike borgstelling teen een van die trustees in die hof wou afdwing.

  1. ‘n Trust het verskillende afbetalingsverkoopsooreenkomste met ‘n bank gesluit.
  2. Die trust het die bedrag van R1 miljoen aan die bank geskuld. Om hierdie skuld van die trust in te vorder, het die bank ook die persoonlike borgstelling teen een van die trustees wat haarself as borg en mede-hoofskuldenaar verbind het, ingeroep en probeer afdwing.
  3. Die Hoë Hof het egter bevind dat die borgstelling uit die staanspoor ongeldig was omdat die oorspronklike afbetalingsverkoopsooreenkomste met die trust ongeldig was. Net een trustee het die ooreenkomste onderteken, terwyl die trustakte uitdruklik vereis het dat die trust slegs deur eenparige besluite van twee trustees kan handel.

Waarna moet mens oplet?

  • Gaan die magtigingsbrief na: Die trustees moet amptelik deur die Meester van die Hoë Hof aangestel word en gemagtig word om op te tree. Die Meester doen dit met die uitreiking van ‘n formele aanstellingsbrief aan die trustees. Hierdie is dus ‘n belangrike eerste stap om na te gaan en op rekord te kry.
  • Gaan die Identiteitsdokumente van die aangestelde Trustees na: Hou afskrifte van die Identiteitsdokumente van al die trustees wat dokumente en volmagte namens die trust teken. Dit sal enige toekomstige geskille rakende enige van die trustees se werklike identiteit vermy.
  • Gaan die trustakte na:  Die trust sal slegs gebonde wees aan besluite wat die trustees geneem het, indien die trustees se aanstelling en handelinge voldoen en in ooreenstemming is met die vereistes in die trustakte, soos:
    • Aanstelling van trustees: Maak seker dat die trustees behoorlik aangestel is.
    • Handelsbevoegdheid: Die meeste trustaktes verleen wye magte aan die trustees om feitelik enige tipe transaksie waaraan jy kan dink te sluit. Sekere trustaktes is egter meer beperkend, daarom moet jy seker maak dat die trustees die nodige magtiging het om jou spesifieke transaksie te sluit.
    • Minimum aantal trustees: Indien die trustakte vereis dat ‘n minimum aantal trustees aangestel moet wees, moet hierdie minimum aantal trustees ten alle tye in plek wees vir die trust om enigsins handelingsbevoegdheid te geniet. In hierdie geval het die trustakte vereis dat daar altyd tussen drie en vyf trustees aangestel moet wees, terwyl daar egter tydens die ondertekening in hierdie geval, slegs twee trustees was. Daar kan wel ‘n uitsondering wees soos in hierdie geval wat die bank op hierdie aspek wel tegemoet gekom het. Die Trustakte het wel ander klousules gehad wat voorsiening gemaak het vir die geval waar daar net twee trustees in amp was wat hulle nog steeds bemagtig het om die trust te bind. Die spesifieke trustakte sal egter uitdruklik hiervoor moet voorsiening maak.
    • Die trustees moet gesamentlik besluite neem en optree: Tensy die trustakte uitdruklik voorsiening maak vir ‘n ander bedeling, moet trustees altyd gesamentlik optree. ‘n Trustakte kan ook, soos in hierdie geval, presies spesifiseer watter tipe handelinge deur ‘n enkele trustee uitgevoer mag word, of watter handelinge deur twee trustees gesamentlik of deur alle trustees eenparig uitgevoer moet word. In hierdie geval het die trustakte vereis dat hierdie tipe kontrakte wel deur ten minste twee trustees gesamentlik gesluit moes word.
    • Delegering van magte: Trustaktes bepaal dikwels dat trustees, soos in hierdie geval, een of meer trustees kan magtig om sekere dokumente namens die trust te onderteken. Wanneer daar ‘n dispuut ontstaan, sal jy egter moet bewys dat sodanige trustees wel behoorlik by magte was om namens die trust die dokumente te onderteken. In hierdie geval kon die bank nie daarin slaag om dit te bewys nie. Alternatiewelik kan jy dalk bewys dat die handeling geratifiseer is of dat daar afgeleide of oënskynlike magtiging was (waar trustees die indruk geskep dat die trustee die nodige magtiging gehad het om die trust te verteenwoordig.) Dit is egter baie veiliger om vanuit die staanspoor die vereiste skriftelike bewyse van die magtiging aan te vra en na te gaan.
    • Al die ander vereistes en formaliteite: Trustaktes sal gewoonlik hier en daar ‘n afwyking van die standaard trustakte bevat, na gelang van die persoonlike instruksies, besluite en voorkeure van die oprigter en natuurlik die behoeftes van die  trustbegunstigdes vir wie die trust aanvanklik opgerig is. Die verskille kan subtiel wees, maar kan van kritieke belang wees. Soos gewoonlik, beveel ons aan dat jy niks teken voordat jou prokureur die trustakte en ondersteunende dokumentasie nagegaan het nie.

Indien u met ons in verbinding wil tree ten opsigte van enige aspek wat hierin vermeld word, stuur asb ‘n epos aan info@chrisfick.co.za

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)