Chris Fick & Associates

Nota: Hierdie is slegs ‘n kort oorsig. Met die nuwe wetgewing is daar ingewikkelde bepalings en vereistes en indien jy ‘n trustee of bestuursagent is, moet jy jouself deeglik daarvan vergewis. Kontak ons gerus indien u enige hulp hiermee benodig.

Die wette waarna verwys word is slegs in Engels uitgebring. Ons praat voortaan van die Bestuurswet (“the Sectional Titles Schemes Management Act”) en van die Ombudswet (“the Community Schemes Ombud Service Act”). Die Bestuurswet is net van toepassing op Deeltitelskemas en vervang die Deeltitelwet se bestuursbepalings. Hierdie wetgewing het op 7 Oktober 2016 in werking getree.

Die tien jaar plan en die vereiste van ‘n reserwefonds

Regspersone en Trustees moet kennis neem van die verantwoordelikhede en verpligtinge wat nou op hul rus. Dit hou in dat hulle ‘n tien jaar plan moet voorberei wat volledig met onderhoud, herstel en vervanging van kapitaalitems moet handel. Die plan moet finansieel gerugsteun word deur ‘n reserwefonds wat sterk genoeg is om toekomstige onderhoud en herstel van die gemeenskaplike eiendom te dek en moontlik te maak.

‘n Minimumvlak is vir hierdie reserwefonds vasgestel en wel teen 25% van die voorafgaande jaar se administratiewe fonds – die fondse wat vir operasionele kostes gebruik is. Indien jou skema se befondsing nie hieraan voldoen nie (dit sal outomaties die geval wees indien jul skema in die verlede instandhoudingswerk met spesiale heffings gefinansier het), sal die skema se heffings met ten minste 15% moet styg (afgesien van die gebruiklike jaarlikse styging) totdat die reserwefonds die voorgeskrewe minimumvlak bereik het.

Ander belangrike veranderinge

1. Die Regspersoon moet kennis gee (gebruik Vorm A van die Regulasies) aan die Ombud, die plaaslike munisipaliteit en ook aan die Registrateur van Aktes van die skema se aangewese domicilium citandi et executandi oftewel dieningsadres waar dokumente en kennisgewings op die skema beteken kan word.

2. Daar is nuwe bepalings oor hoe vergaderings belê kan word en ook ‘n beperking gestel wat bepaal dat een persoon nie vir meer as twee lede met ‘n volmag kan optree nie.

3. Die geboue en verbeteringe van die skema moet elke drie jaar waardeer word en die nuwe waardasies moet aan die AJV voorgehou word om die versekeringskedules goed te keur.

4. Die Regspersoon word gemagtig om rente te hef op agterstallige heffings en ook op enige ander bedrae wat ‘n lid verskuldig is. Sodanige rente kan maandeliks bygevoeg word teen die maksimumkoers wat ingevolge die Nasionale Kredietwet toelaatbaar is (Repokoers + 21%).

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)