Chris Fick & Associates

“My best entrepreneurial advice is to start” (Dave Morin, entrepreneur, belegger, HUB en mede-stigter van die sosiale netwerk, Path.)

In ons vorige artikel oor die reeks “Kies die regte entiteit vir jou besigheid“ het ons gekyk na die vennootskap. Kom ons kyk nou na die private maatskappy as ondernemingsvorm. So ‘n onderneming word besit en bestuur deur die maatskappy – Eiendoms Beperk – nie deur jou as individu of ‘n groep individue nie.

Beslote korporasies (BK’s) bestaan nog voort, maar geen nuwe BK’s kan meer geregistreer word nie. BK’s word natuurlik deur hul “lede” beheer, terwyl ‘n maatskappy deur aandeelhouers beheer word.

Wat is ‘n private maatskappy?

Ons regstelsel beskou ‘n private maatskappy as ‘n afsonderlike regsentiteit; dit word gesien as ‘n regspersoon met ‘n eie regspersoonlikheid. Dit bestaan onafhanklik van die besturende beamptes (direkteure en bestuurders) en ook onafhanklik van die eienaars (aandeelhouers.) Daar is ook nie meer enige beperking op die getal aandeelhouers nie; die vorige beperking van 50 aandeelhouers het weggeval.

Hier is dus ‘n absolute skeiding tussen jou persoonlike bates en jou besigheidsrisiko’s. Trouens ons moderne handelstelsel is gebaseer op hierdie onderskeiding tussen jou persoonlike bates en die van die entiteit waarin jy handel.

Dit gaan terug na die bewese beginsel dat entrepreneurskap blom waar die persone daarby betrokke slegs beperkte aanspreeklikheid opdoen. Die aandeelhouer se aanspreeklikheid vir skulde van die maatskappy strek net sover as die belegging wat hul gemaak het toe hulle die aandeelhouding bekom het.

Soos met alleeneienaars en vennootskappe kan ‘n maatskappy wel ‘n handelsnaam gebruik soos “XYZ Beleggings Edms Bpk handeldrywend as Laeveld Loodgieters”.  Dit is egter die maatskappy self wat sake doen en kontrakteer en belasting betaal.

7 Voordele van private maatskappye …

1. ‘n Maatskappy is potensieel ewigdurend. Die afsterwe, bedanking, onbevoegdheid of insolvensie van enige van die maatskappy se direkteure of aandeelhouers het op sigself geen effek op die maatskappy nie – die maatskappy bly voortbestaan. Dit hou praktiese – en handelsvoordele in.

2. Dit is maklik om eienaarskap en bestuur van die maatskappy te verander – die aandeelhouers en die direkteure kan verander, maar die maatskappy self bly onaangeraak.

3. Direkteure en die bestuur geniet beskerming en is slegs in beperkte mate aanspreeklik vir die skulde van die maatskappy. Die direkteure en die senior bestuurslede kan wel persoonlik aanspreeklik gehou word in gevalle van roekelose of bedrieglike handel en vir die nie-nakoming van statutêre verpligtinge. Die nuwe Maatskappywet van 2008 het ‘n hele bedeling van verpligtinge en risiko’s op direkteure gelê. Onthou ook dat waar jy persoonlik borg teken vir die skulde van die maatskappy, val hierdie beskerming van jou persoonlike bates ook weg.

4. Aandeelhouers is in beginsel nie aanspreeklik vir maatskappyskulde nie. Daar kan wel ‘n vorm van belastingaanspreeklikheid ontstaan indien hulle die finansiële sake van die maatskappy beheer of nou betrokke is by die finansiële sake van die maatskappy.

5. Dit behoort makliker te wees om finansiering vir ‘n maatskappy te bekom as vir ‘n alleeneienaar of vennootskap.

6. Die maatskappyvorm is vir groot en klein besighede aanpasbaar. Al gaan jou besigheid klein begin met die vooruitsig van eksponensiële toekomstige groei, oorweeg dit steeds om vanuit die staanspoor ‘n maatskappy op te rig.

7. Belasting: Soms voordelig … sien hieronder.

… en 3 nadele

1.Oprigting: Anders as met alleeneienaars en vennootskappe moet ‘n maatskappy formeel opgerig en geregistreer word. Hou die tydsduur en kostes hiervan in gedagte. Deur ‘n rakmaatskappy te koop, kan jy van die  prosesse verkort, maar die besonderhede van die nuwe direkteure en aandeelhouding moet steeds by CIPC aangemeld en geregistreer word. Maak seker dat jy ‘n betroubare diensverskaffer gebruik.

2. Die administrasiekostes: Hier is beslis hoër administrasievereistes en kostes in vergelyking met die ander opsies. Jy gaan voorsiening moet maak vir die onvermydelike tyd en kostes wat nodig is vir die maatskappy om aan die wetlike vereistes, deurlopende opgawes en voorgeskrewe burokratiese rompslomp te voldoen. Jy kan nou al uitvind of die maatskappy se finansiële state slegs onderhewig gaan wees aan onafhanklike oorsig en of ‘n volledige oudit jaarliks vir die maatskappy nodig gaan wees.

3. Belasting: Soms nadelig … sien hieronder.

Die belastingsituasie

Dit is natuurlik onmoontlik om algemene belastingadvies te gee; verkry professionele  advies oor die verskillende opsies wat ter sprake is en bepaal dan watter entiteit vir jou spesifieke omstandighede geskik gaan wees.

Oorweeg die verskillende belastings wat ter  sprake is en die verskillende koerse wat op verskillende entiteite van toepassing mag wees: ondersoek die hele prentjie en die verskillende gevolge. Dink aan hoe inkomstebelasting, kapitaalwinsbelasting en hereregte hanteer word. Dink ook aan die implikasies van belasting op dividende en boedelbelasting. Daar is ook vrystellings en kortings wat slegs op natuurlike persone van toepassing is – dink maar aan die bestaande vrystelling van R2 000 000 vir kapitaalwinsbelasting op ‘n primêre woning wat slegs vir natuurlike persone beskikbaar is.

As deel van jou ondersoek na die geskikte besigheidsvorm, moet jy professionele advies oor die regsposisie sowel as oor die belastingsituasie van die verskillende moontlikhede verkry. Dan eers kan jy ‘n ingeligte keuse maak.   

Hierdie is die vierde artikel in ons reeks “Begin jy met jou eie besigheid?”. In ons volgende uitgawe sal ons in meer besonderhede kyk na die aanwending van ‘n handelstrust as ‘n besigheidsvorm.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)