Chris Fick & Associates

Nota: Soos met die vorige artikel is hierdie ook noodwendig slegs ‘n kort oorsig. Met die nuwe wetgewing is daar ingewikkelde bepalings en vereistes en indien jy ‘n trustee of bestuursagent is, moet jy jouself deeglik daarvan vergewis. Kontak ons gerus indien u enige hulp hiermee benodig.

Die “Community Schemes Ombud Service Act” (die Ombudswet) het op 7 Oktober 2016 saam met die verwante “Sectional Titles Schemes Management Act” (die Bestuurswet soos hierbo na verwys) in werking getree. Dit is van toepassing op alle Gemeenskapskemas (residensieel, kommersieel sowel as industrieel) insluitende –

  • Deeltitelskemas en ontwikkelings
  • Huiseienaarsverenigings
  • Eiendomseienaarsverenigings
  • Aandeleblokskemas en –maatskappye
  • Behuisingskemas vir afgetrede persone
  • Ko-operatiewe behuisingskemas
  • Enige ander skema of reëling waardeur gemeenskaplike gebruik of gedeelde verantwoordelikheid vir grond of geboue voorsien word.

Dispute in ‘n gemeenskapskema – ‘n nuwe proses

Indien jy al ooit in ‘n gemeenskap gebly of gewerk het, sal jy weet hoe maklik dispute kan ontstaan en hoe moeilik dit soms kan wees om dit op te los.

Daarom moet mens die nuwe Ombuddiens vir Gemeenskapskemas verwelkom. Dit maak voorsiening vir ‘n alternatiewe proses om dispute op te los en dit is toeganklik vir enigiemand wat ‘n party is by ‘n dispuut of wat wesentlik deur so ‘n dispuut geraak word.

Die Ombuddiens het ‘n wye mandaat en dispute oor die volgende word hierby ingesluit: dispute oor heffings, oorlas, herstel-  en onderhoudswerk, skemavergaderings, probleme met die skema se finansies, oorsig- en bestuursprobleme asook dispute oor uitsluitlike gebruiksgebiede – die lys is lank en wyd bewoord. Regsverteenwoordiging is slegs toelaatbaar indien die Ombud en al die partye so ooreenkom of indien die Ombud bevind dat die party nie sy saak sonder die hulp van regsverteenwoordiging kan voer nie. Die Ombud se bevele kan wel na die Hoë Hof op appèl geneem word, maar slegs insoverre dit oor regsaspekte handel.

Die skema se administrateurs kan ook vra dat ‘n huurder die huurgeld direk aan die administrateurs oorbetaal ten einde die eienaar se agterstallige heffings op datum te bring.

Die koste van hierdie dispuutbeslegtingsdiens is minimaal (R50 per aansoek, R100 vir die aanhoor van die dispuut, R8 vir ‘n afskrif van ‘n dokument) maar jou heffings gaan styg wanneer jou skema die verpligte diensheffing vir die Ombuddiens van jou gaan verhaal en kwartaalliks aan die diens moet oorbetaal.

Die diensheffing is gekoppel aan jou maandelikse heffing – ‘n glyskaal wat wissel van Nul Rand vir heffings van R500 per maand en laer tot by ‘n maksimum van R40 per maand vir heffings van R2500 per maand en hoër. Jy kan die diensheffing bepaal met behulp van ‘n “Rekenaar” op die Ombuddiens se webwerf hier http://www.csos.org.za/regulations.html en dit sal vir jou wys wat jy vir jou eenheid en ook wat die skema in geheel gaan betaal. Hierdie diensheffings is betaalbaar binne 90 dae van 7 Oktober af.

Die verpligtinge op alle skemas en hul administrateurs

Die wet praat van “scheme executives” wat ons vir nou sal vertaal as Administrateurs (trustees, direkteure, bestuursagente en enige ander persoon wat  uitvoerende beheer oor ‘n gemeenskapskema uitoefen). Sodanige administrateurs moet hul verantwoordelikhede en fidusiëre verpligtinge teenoor die skema nakom. Dit sluit in dat hulle vertroud en ingelig moet wees oor hul skema, die toestand en aktiwiteite van die skema, asook dat hulle aan alle toepaslike regsaspekte en voorgeskrewe dokumentêre vereistes moet voldoen.

Die dokumentêre vereistes gaan oor die voorgeskrewe bestuurs- en voldoeningsvereistes in ‘n gemeenskapskema. Dit sluit in alle reëls, regulasies, die grondwet van die skema, ander voorskrifte, voorwaardes, bedinge en  vereistes of bepalings wat die administrasie of besit of beheer van private areas sowel as gemeenskaplike areas in ‘n gemeenskapskema reguleer.

Onder andere moet skemas voortaan–

  • Voldoende getrouheidsversekering uitneem om die skema te beskerm teen die verlies van geld deur diefstal, bedrog of oneerlikheid.
  • Binne 30 dae vanaf 7 Oktober by die Ombuddiens registreer en vorm CS1 hiervoor gebruik, (indien die skema nog nie opgerig is nie, dan binne 30 dae vanaf inkorporasie)
  • Jaarlikse opgawes by die Ombuddiens indien (binne 90 dae vanaf 7 Oktober of indien die skema nog nie opgerig is nie, dan binne 90 dae vanaf inkorporasie).

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)