Chris Fick & Associates

“Die reg op privaatheid, soos ander regte, is nie absoluut nie.”

Ons regspraak het dit al duidelik gemaak dat beledigende of afbrekende kommentaar oor jou werkgewer of jou kollegas wat jy op sosiale media platforms plaas as wangedrag gesien kan word. Dit kan aanleiding gee tot dissiplinêre stappe teen jou en dit kan selfs tot jou regmatige afdanking lei.

‘n Onlangse uitspraak van die Hoë Hof het ‘n bepaalde risiko uitgelig. Jou kommentaar op sosiale media is nie noodwendig so privaat of van jou werkgewer versteek as wat jy mag dink dit is nie. Hierdie spesifieke ondersoek het gehandel oor ‘n dispuut tussen die lede van ‘n korporasie. Dit het nie uit ‘n diensverhouding ontstaan nie.

Die jag van ‘n jagter – dit kan onwettig wees

  • ‘n Lid van ‘n beslote korporasie (met ‘n ledebelang kleiner as 50%) was by die beslote korporasie in diens as ‘n professionele jagter en safarigids. Kom ons noem hom “die werknemer”. Nadat hy en ‘n ander lid stry gekry het, het hy die besigheid verlaat en het hy by ‘n mededinger aangesluit.
  • Hy het egter as lid van die BK aangebly, waarskynlik om nie ‘n handelsbeperkingsklousule in sy dienskontrak te oortree nie. Dit was egter ook ‘n belangrike faktor vir sy ondergang. As geregistreerde lid van die BK het hy ‘n fidusiêre plig gehad om ten alle tye eerlik en ter goeder trou tot voordeel van die BK op te tree. Hy was verplig om enige botsende belange met die BK te vermy.
  • Die ander lid het ‘n sterk vermoede gehad dat daar mededinging was. Hy het aanlyn gaan jag vir bevestiging van sy vermoedens. Hy het wederregtelik toegang tot die werknemer se Facebook-blad verkry. Daar was inderdaad boodskappe wat daarop dui dat die werknemer ‘n mededingende jagbesigheid begin het in direkte mededinging met die BK. Die werknemer het ook aktief probeer om kliënte van die BK na sy besigheid te lok en het neerhalende kommentaar van die BK en die ander lid gemaak.
  • Die werkgewer (die ander lid) het by die hof aansoek gedoen om ‘n interdik te verkry om die werknemer te verbied om met die duidelike verbreking van sy vertrouensplig voort te gaan. Die werkgewer se enigste bewyse was drukstukke van die werknemer se Facebook-blad. Die werknemer se regspan het daarom lank en hard baklei om die bewysstukke as ontoelaatbaar te laat verklaar.

Jy kan nêrens wegkruip nie – wees versigtig met jou kommentaar op sosiale media!

Die hof het die Facebook drukstukke toegelaat as bewysstukke en het die interdik teen die werknemer toegestaan. Die hof beslis dat –

  • Die toegang wat sonder toestemming tot die werknemer se Facebook blad verkry was, was beide –
    • Onwettig. Dit was ‘n strafregtelike oortreding in terme van die Wet op Elektroniese Kommunikasies en Transaksies. Die wet verbied  enige ongemagtigde toegang tot, of onderskepping van “enige data” – in hierdie geval het die BK onwettig toegang verkry tot die werknemer se Facebook-blad deur ‘n ander werknemer se kennis van die wagwoord; en
    • ‘n Skending van die fundamentele grondwetlike reg van die werknemer se reg tot privaatheid, wat sy private kommunikasie insluit.
  • Hier was dit van kritiese belang dat getuienis wat onwettig bekom was, nie noodwendig deur die hof uitgesluit sou word nie. Die hof behou steeds ‘n inherente diskresie om die getuienis gedeeltelik of in geheel toe te laat. Die hof moet wel alle relevante faktore oorweeg, soos –
    • Die omvang van die inbraak op die ander party se regte,
    • Die aard en inhoud van die betrokke getuienis,
    • Of daar enige poging aangewend was om die inligting op ‘n wettige manier te verkry,
    • Die aanvaarding dat geregtigheid dikwels voortvloei uit die strewe na die waarheid en die onthulling van verborge feite. Terselftertyd is daar ook aanvaarding dat die Grondwet ons howe nie toelaat om sonder beperking onwettig verkreë getuienis toe te laat nie. Dit verg dus altyd ‘n fyn afweging van belange.
  • In hierdie geval was die werknemer se optrede vererger deur sy ontkenning daarvan. Hy het ook uitdruklik onderneem om dit nie te doen nie. Volgens die hof behoort sy laakbare optrede blootgestel te word en behoort hy nie agter sy verwagting van privaatheid te kan wegkruip nie. Dit blyk dat hy sy reg tot privaatheid geopper het omdat hy iets gehad het om weg te steek.

Om saam te vat – ons fundamentele reg op privaatheid, in die werklike en in die digitale wêreld is geensins absoluut nie. Wees dus altyd versigtig oor die kommentaar wat jy op sosiale media lewer!

Werknemers: Wat van jou?

Hierdie saak bied nie ‘n vrypas om op jou handelsvennote of werknemers se sosiale mediaplatforms aktief te raak of rond te snuffel nie. Inteendeel, dit bly onwettig en dit sal potensieel ernstige gevolge in die strafregtelike- , siviele-  en arbeidshowe inhou. Al wat die saak illustreer is dat werkplek oortreders onder sekere omstandighede nie agter die beskerming van wetgewing oor  privaatheid kan skuil nie. Jy moet dus seker maak dat jou werkgewer ‘n beleid oor Sosiale Media in plek het. Verkry ook toegepaste advies oor jou spesifieke omstandighede.

Indien u met ons in verbinding wil tree ten opsigte van enige aspek wat hierin vermeld word, stuur asb ‘n epos aan info@chrisfick.co.za

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)