Chris Fick & Associates

Maak staat op die raad van die man wat twyfel of dit reg is: die man wat nie twyfel nie, het die saak maar van een kant af beskou.

C.J. Langenhoven (Waardes en Waagmoed)

Met die bruilofseisoen in volle swang, moet jy sorg dat jy tydig regsadvies inwin oor die drie huweliksgoederebedelings wat in Suid-Afrika vir die partye beskikbaar is.

Dit is belangrik om ‘n voorhuwelikse kontrak te sluit voordat jy trou, anders sal jy ingevolge ons reg outomaties in gemeenskap van goed getroud wees. Dit mag heel moontlik nie die beste keuse vir jou en jou huweliksmaat wees nie. Dit is moontlik om later gesamentlik jul huweliksgoederebedeling te verander nadat die huwelik reeds gesluit is. Dit behels egter ‘n gesamentlike hofaansoek in die Hoë Hof nadat julle ook aan al jul skuldeisers skriftelik kennis gegee het. Dit is moontlik, maar dit is nie ‘n vinnige of ‘n goedkoop opsie nie. En dit is in geheel onnodig as julle voor die huwelik die nodige erns en aandag aan jul sake gee.

Die drie keuses

1. Huwelik in gemeenskap van goedere:

Hierdie is die standaard bedeling wat op huwelike van toepassing sal wees indien jy nie ‘n huweliksvoorwaardekontrak sluit nie. Alles wat jy besit en skuld, asook alles wat jy gedurende jou huwelik bymekaar maak, beland in die een enkele gemeenskaplike boedel. Hier is slegs ‘n paar uitsonderings. Jou huweliksmaat sal skriftelik tot sekere transaksies moet toestem. Op datum van egskeiding of dood, sal jou gemeenskaplike boedel omtrent altyd gelykop tussen die huwelikspartye verdeel word, ongeag van wat elkeen van julle tot die huwelik bygedra het. Indien een van die gades in ‘n finansiële penarie beland, is dit die gemeenskaplike boedel wat aanspreeklik gehou sal word. Beide huweliksmaats word outomaties saam gesekwestreer en sal alles verloor ingeval van sekwestrasie.

2. Huwelik buite gemeenskap van goedere, sonder die aanwasbedeling:

Jou eie bates en jou eie laste, dit wat jy inbring in die huwelik en dit wat jy gedurende die huwelik opbou en bymekaar maak, bly joune en joune alleen. Jy kan na vrye wil daarmee handel. Jy sal glad nie aanspreeklik wees vir jou gade se afsonderlike skulde nie en dienooreenkomstig sal die sekwestrasie van jou gade se boedel ook nie jou boedel raak nie. Jy sal net jou bewyse van eienaarskap aan die Trustee van die gesekwestreerde boedel moet lewer en jou bates sal aan jou as die solvente huweliksmaat vrygestel word. Hierdie huweliksgoederebedeling mag dalk die regte keuse vir jou wees. Let egter daarop dat dit ‘n risiko inhou vir die huweliksmaat wat deur voltydse tuisteskepping en deur ondersteuning van die gesin tot die huwelik bygedra het; eerder as met uitsluitlike beroeps- en finansiële bydraes. Sonder ‘n eis vir aanwas kan so ‘n huweliksmaat sleg aan die kortste ent trek.

3. Huwelik buite gemeenskap van goedere, met insluiting van die aanwasbedeling:

Soos met die vorige huweliksgoederebedeling, bly jou bates en jou laste joune en volledig onder jou eie beheer. Jou bates is ook beskerm teen jou huweliksmaat se skuldeisers. Die verskil is dat by datum van egskeiding of dood, word die sogenaamde aanwas of groei van julle afsonderlike boedels bereken. Jy en jou huweliksmaat deel dan gesamentlik in hierdie groei, met slegs enkele uitsonderings.

Hierdie is vandag ‘n billike en ook die mees gewilde huweliksgoederebedeling. Dit is egter nie noodwendig die beste keuse vir jou spesifieke omstandighede nie; gaan neem dus behoorlike advies.

Dit laat beide van julle in die aanloop tot jul huwelik met ‘n paar belangrike besluite om te maak. Al drie die opsies hierbo het hul eie voordele en nadele. Hierdie uiteensetting is slegs ‘n algemene opsomming oor die onderwerp. Kry ‘n prokureur om ‘n gepaste Huweliksvoorwaardekontrak vir julle spesifieke situasie op te stel. Julle is dit aan mekaar as huweliksgenote verskuldig om ingeligte besluite hieroor te neem. Hierdie kontrak moet ook voor die huwelik deur die partye onderteken word en notarieël verly word. Dit is beslis nie ‘n proses wat julle op nommer 99 of selfs net ‘n paar dae voor die troue moet aanpak nie.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)