Chris Fick & Associates

Swak bure kan jou op ‘n persoonlike vlak raak en verhoed dat jy jou eiendom ten volle geniet. Dit kan jou ook in die sak raak as jou bure se optrede die waarde van jou buurt negatief raak. Indien jy opmerk dat daar onwettige bou aktiwiteite langs jou aan die gang is, moet jy vinnig spring om dit aan te spreek.

Jy het gelukkig die ondersteuning van regspraak aan jou kant, soos blyk uit ‘n onlangse uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl. Hier bevind die Hof dat jy verder kan gaan as net om die munisipaliteit te probeer kry om hul eie bouregulasies en soneringswetgewing af te dwing – jy kan self die Hof direk nader vir ‘n stakingsbevel of ‘n slopingsbevel.

Slopingsbevel toegestaan – ten spyte van die munisipaliteit

  • ‘n Nuwe ontwikkeling van kleinhandel- en kantoorruimte het die toegelate dekking substansieel oorskry. Die plaaslike stadsbeplanningskema het voorsien dat nie meer as 60% van die grond toegebou mag word nie, terwyl die ontwikkeling meer as 86% toegebou het. Daar was ook nie voldoende voorsiening vir parkeergebiede nie.
  • Die ontwikkelaar het beweer dat die betrokke munisipaliteit die bouplanne goedgekeur het. Die Hof vind dit moeilik om enige werklike samewerking of duidelike terugvoering van die munisipaliteit te kry. Al wat werklik duidelik is, indien die munisipaliteit goedkeuring verleen het, blyk dit dat die munisipaliteit sodanige goedkeuring later teruggetrek het.
  • Die Hof bevind dat, selfs indien sodanige goedkeuring verleen is, dit in elk geval tersyde gestel moet word. Die Hof beveel die ontwikkelaar dan om dele van die ontwikkeling te sloop, ten einde dit in pas te bring met die tersaaklike bouregulasies en wetgewing.

Eerste prys, tweede prys

Die Appèlhof het ook die reg van belanghebbende partye en bure om self aansoek te doen vir ‘n slopingsbevel, bevestig. Dit is ‘n belangrike wapen in die stryd teen onwettige konstruksiepraktyke, maar dit is nie die optimale posisie nie.

Waar jy persoonlik (in teenstelling met die munisipaliteit) ‘n aansoek vir ‘n slopingsbevel bring, is die beginsels van die privaatreg en die burereg van toepassing. ‘n Hof is onder geen verpligting om ‘n slopingsbevel toe te staan nie en sal altyd ‘n diskresie hieroor hê. ‘n Slopingsbevel is natuurlik ‘n uiterste remedie en die Hof kan heel moontlik ‘n alternatiewe bevel toestaan, insluitende ‘n bevel van skadevergoeding. In hierdie geval lyk dit of die ontwikkelaar sy lot verseël het, deur onverpoosd voort te gaan met die onwettige bouwerk, nadat die onwettigheid van hul optrede aan hulle uitgewys is.

Waar die munisipaliteit aktief toetree en self die aansoek vir sloping bring, is die beginsels van die publiekreg van toepassing. Ons howe het reeds bevind dat dit oor geen diskresie beskik waar geboue onwettig, ingevolge die publiekreg, opgerig is nie. Die Hof moet dan ‘n slopingsbevel toestaan.

Daarom is dit altyd beter om die munisipaliteit te kry om self hul bouregulasies af te dwing en om in die proses die oortreder hof toe te neem.

Die belangrikste is egter om so gou as moontlik in te gryp en op te tree. Kry dus dadelik advies sodra jy bewus raak van enige onwettige konstruksie of stappe om met bouwerk te begin.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)