Chris Fick & Associates

“…die wetgewing oor die toestaan van skuldbeslagbevele is deur kredietverleners misbruik. Dit het aanleiding gegee tot geweldige druk en laste op die persone teen wie hierdie bevele toegestaan word.” (Vertaalde aanhaling uit die hofsaak wat hierin behandel word.)

Die Grondwetlike Hof het onlangs uitspraak gegee in die saak wat oor skuldbeslagbevele handel.

Hier is ‘n praktiese opsomming van hoe dit uitleners, werkgewers en die skuldenaar gaan raak, tot en met verdere wetgewing hieroor aanvaar gaan word.

1. Wie kan skuldbeslagbevele uitreik? ‘n Skuldbeslagbevel bestaan gewoonlik uit ‘n hofbevel waarin ‘n werkgewer beveel word om sekere aftrekkings van sy werknemer se salaris te maak en dit dan aan ‘n skuldeiser oor te betaal. In die verlede kon dit deur die klerk van die hof uitgereik word, wat beteken het dat dit in sommige howe voor die voet goedgekeur en uitgereik is.

2. Geregtelike oorsig: Vandag kan so ‘n bevel slegs deur ‘n landdros uitgereik word. Die landdros moet twee faktore oorweeg:-

    1. Is dit reg en billik dat ‘n skuldbeslagbevel uitgereik word?
    2. Is die bedrag wat afgetrek moet word, ‘n gepaste bedrag? Die hof moet die finansies oorweeg en dan besluit wat die gepaste bedrag is wat die skuldenaar kan bekostig om te betaal.

Die bestaande vormvereistes bly net so in plek. Dit sluit in dat ‘n kennisgewing per geregistreerde pos aan die skuldenaar gestuur moet word, waarin hy gewaarsku word om die skuld binne 10 dae te vereffen. Die bewys dat die skuldenaar skriftelik ingestem het tot die verlening van so ‘n bevel, moet ook ingedien word.

3. Watter hof? Die bepalings van die Nasionale Kredietwet sal in die meeste gevalle van toepassing wees. Dit hou in dat die aangeleentheid net aangehoor kan word in die hof waar die skuldenaar woon of werk. Skuldeisers kan nie meer met voorbedagte rade howe uitkies wat ver weg is van die skuldenaar se woon- of werksgebied nie. Die skuldenaar behoort dus baie makliker aan enige hofverrigtinge deel te kan neem.

4. Bestaande hofbevele: Die veranderinge is nie terugwerkend van krag nie en is van toepassing op sake vanaf 13 September 2016, die datum van die uitspraak. Bestaande skuldbeslagbevele bly dus geldig en betalings wat ingevolge daarvan aan skuldeisers gemaak word, word nie daardeur geraak nie.

5. As jy uitleen: Wees uiters versigtig wanneer jy lenings maak en maak doodseker dat hulle jou kan terugbetaal. Uitleners sal vind dat selfs al word ‘n lening nie as roekeloos aangemerk nie, gaan dit noodwendig moeiliker raak om skuld in te vorder.

6. Skuldenare: Indien ‘n bestaande beslagbevel reeds op jou salaris of loon toegestaan is, kan jy dit nog steeds op ‘n individuele grondslag in die toepaslike landdroshof laat heroorweeg.

7. Werkgewers: Die bestaande bevele bly geldig en bindend en moet uitgevoer word, tensy ‘n hofbevel op individuele basis ter syde gestel word. Verkry advies indien daar enige onduidelikheid hieroor bestaan.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)