Chris Fick & Associates

Ons 4 tot 8 weke opleidingsprogram van die afgelope 10 maande is daarop gerig om die lewens te verbeter van werklose jongmense wat afkomstig is uit die Kaapse “townships”. Ons help hierdie jongmense om vaardighede te ontwikkel en administratiewe ondervinding op te doen in ’n formele werksomgewing.

Ons kandidate word gekies vanuit die woongebiede rondom Kaapstad deur Mev Suzette Ndovie, ‘n onafhanklike persoon wat self in die “townships” woon en wat betrokke is by ander projekte in haar gemeenskap waarmee sy help om volwassenes selfstandig en finansieel selfversorgend te maak.

Die program bied geleenthede om ons kandidate te bemagtig met in-diens werksondervinding, en om hul profiele te bou sodat hulle meer bemarkbaar kan wees op verskillende diensvlakke.  Die kandidate is betrokke met werklike werksopdragte wat ons as waardevol beskou in die werksomgewing.

‘n Groot deel van ons program behels werkskadu met verskeie lede van ons werkspan, opleiding in kantoorvaardighede, die bekendstelling en blootstelling aan verskeie Staatskantore soos die Akteskantoor, Meesterskantoor, die Hooggeregshof, Landdroshof, Munisipaliteit, Ontvanger van Inkomste, Poskantoor en Docex, en om take te verrig by hierdie onderskeie kantore en instellings.  Die kandidate word ook blootgestel aan bode-take, pos-voorbereiding, argiefliassering, betekening en liassering van hofstukke, kantoorliassering, rekenaarvaardighede en basiese navorsing, telefoon-etiket en ander algemene kantoorfunksies. Bo en behalwe hierdie praktiese vaardighede, moedig ons hulle aan om te lees en selfonderrig te doen.

Gouwa, Lindile, Luciane en Hajira het werksaanstellings gekry na afloop van hul betrokkenheid by die program en Wada is nou ‘n vrugte- en groenteverkoper. Mzu het sy swaarvoertuiglisensie verwerf en Welcome is besig om sy matriek klaar te maak.

Hilton en Enock is tans in die opleidingsprogram.

Om meer uit te vind oor die program en ons kandidate en moontlik te oorweeg om een van hulle tydelik, deeltyds of voltyds aan te stel, kontak ons gerus in daardie verband by info@chrisfick.co.za en 021-4243937.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)