Chris Fick & Associates

 “Alone we can do so little; together we can do so much” (Helen Keller)

In ons vorige artikel in die reeks, “Begin jy met jou eie besigheid?” het ons gekyk na Alleeneienaarskap. Kom ons kyk nou na ‘n vennootskap waar ‘n groep eienaars die alleeneienaar of alleenhandelaar vervang.

Wat behels ‘n vennootskap?

Ons praat maklik oor vennote in verskillende kontekste, maar dit is nodig om suiwer uit ‘n regs- en handelsoogpunt, na die verskillende moontlikhede te kyk. In breë trekke is ‘n vennootskap ‘n vereniging tussen 2 tot 20 mense / maatskappye / trusts wat ooreenkom om hul hulpmiddels saam te voeg (soos geld, eiendom, dienste of kundigheid) en om dan in gesamentlike eienaarskap ‘n besigheid of professie vir wins te bedryf. Die vennote besit die vennootskapseiendom gesamentlik en deel enige vennootskapswinste tussen die vennote soos ooreengekom.

‘n Nota oor verskillende vorms van vennootskappe

In hierdie artikel verwys ons na die algemene of gewone vennootskap. Daar is ook ‘n anonieme vennootskap (waar een of meer stille vennote betrokke is) en ‘n beperkte vennootskap oftewel “en commandite” vennootskap. Hierdie verskil van gewone vennootskappe, so verkry asseblief regsadvies hieroor, indien dit op jou van toepassing is.

Ons sal ook later na die universele vennootskap kyk, wat dikwels ter sprake is by ongetroude lewensmaats wat saamwoon.

6 voordele van vennootskappe ….

  1. Dit is eenvoudig om in vennootskap sake te doen, aangesien daar geen formele registrasie nodig is nie, soos wat wel die geval is met maatskappye en trusts. Dit is belangrik om ‘n volledige geskrewe vennootskapsooreenkoms tussen die vennote te hê. Dit is nie ‘n regsvoorskrif nie en dit sal wel onkostes en vertragings vir die vennote  meebring. Ons regsspraak is egter deurspek met bittere en duur vennootskapsdispute. Dit is die direkte gevolg van swak bewoorde of nie bestaande vennootskapsooreenkomste. Die beste bedoelings in die wêreld saam met die stewigste handdrukke, beteken niks wanneer die vennote onderling met mekaar begin verskil nie.
  2. Daar is geen voorgeskrewe ouditvereistes nie en die administratiewe las is klein in vergelyking met ‘n maatskappy.
  3. Die vennote word op ‘n persoonlike skaal belas, wat soms (nie altyd nie, sien hieronder) tot jou voordeel kan wees.
  4. ‘n Vennoot kan jou dikwels toegang bied tot ‘n alternatiewe bron van finansiering en/of bykomende bates vir die vennootskap.
  5. Die meeste vennote sal ook nuwe vaardighede vir die vennootskap kan bied.
  6. Jy is nie meer alleen nie. Jy het vennote waarmee jy die werkslas en die stres en uitdagings wat bestuur en besluitneming van ‘n besigheid meebring, kan deel. Julle moet wel seker maak dat die vennote ‘n gesamentlike visie vir die vennootskap deel, anders is wrywing en konflik onafwendbaar.

….. en 6 nadele van vennootskappe

  1. Verlies aan beheer. Jy het nou gedeeltelike beheer en eienaarskap van die besigheid. Jou vennote moet geken word met enige belangrike besluite en dit bring vertragings mee.
  2. Enige vennoot kan die vennootskap kontraktueel verbind. Daarom is dit van uiterste belang dat jy vennote vind wat jy in geheel vertrou om ten alle tye eerlike en wyse besluite tot voordeel van die vennootskap te neem.
  3. ‘n Vennootskap beskik oor geen aparte regsentiteit nie. Jy is altyd persoonlik aanspreeklik vir alle skulde en verpligtinge van die vennootskap. Indien die vennootskap nie enige skulde kan betaal nie, sal skuldeisers teen jou persoonlik optree om vennootskapskulde te verhaal. Indien ‘n vennootskap gesekwestreer word, sal jou persoonlike boedel ook gesekwestreer word, tensy jy voldoende sekuriteit by die Hof kan stel vir die vereffening van ale vennootskapskulde. Soos met ‘n alleeneienaar, is alle bates in jou persoonlike naam, insluitende jou huis, in gedrang.
  4. Indien een van die vennote tot sterwe kom, of insolvent verklaar word, of wanneer ‘n nuwe vennoot toetree, moet die bestaande vennootskap outomaties eindig. Jy sal eweneens, persoonlik aanspreeklik wees vir enige tekortkominge indien die vennootskap nie in staat is om al die skuld te vereffen nie.
  5. Indien jy meer as jou pro-rata gedeelte van vennootskapskulde en uitgawes betaal, kan jou eis teen jou vennote (of hul boedels) van nul en gener waarde wees indien hulle nie in staat is om jou te vergoed nie.
  6. Belasting- en boedelbeplanning. Soos met alleeneienaars, kan daar gevalle wees waar dit tot jou voordeel is, dat jy as vennoot op jou persoonlike belastingskaal aangeslaan gaan word. Afhangend van jou persoonlike situasie, kan daar wel meer gunstige resultate verkry word met die kundige gebruik van korporatiewe entiteite of trusts.

Wat van ‘n gesamentlike onderneming (“joint venture (JV)”)

Voordat jy ‘n gesamentlike onderneming (of “JV”), aangaan moet jy ook die kat goed uit die boom kyk.

‘n Gesamentlike onderneming is gewoonlik van toepassing op ‘n enkele transaksie of projek. Ongeag die naam wat die sakeverhouding dra, kan dit ook in sekere gevalle as ‘n vennootskap verklaar word. Daarom moet ‘n gesamentlike onderneming eerder in ‘n aparte entiteit hanteer word, of ten minste in ‘n volledige ooreenkoms beskryf word, wat die nodige beskerming aan die deelnemers verleen.

Dit klink onwerklik, maar ‘n mens kan selfs onbewustelik ‘n vennootskap skep. ‘n Vennootskap kan mondelings of deur optrede tot stand gebring word. Dit is daarom belangrik dat enige sakeverhouding op skrif gestel word om enige onduidelikheid so ver moontlik te vermy.

Dit is van uiterste belang om professionele advies te verkry oor die belasting- en regsimplikasies van die verskillende handelsvorme, voordat jy ‘n finale keuse hieroor maak.

Hierdie is die derde artikel in ons reeks “Begin jy met jou eie besigheid?”. In ons volgende uitgawe sal ons in meer besonderhede kyk na die private maatskappy as ondernemingsvorm.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)