Chris Fick & Associates

Mediasie word toenemend gebruik om geskille by te lê, maar vir baie mense is die mediasieproses steeds nuut en onbekend.

Gereelde vrae in hierdie verband is:

  • Hoe begin ek om te medieer?
  • Watter stappe moet ek neem?
  • Hoe werk mediasie?

Begin van die proses:

Afhangende van die aard en omvang van ‘n probleem of geskil, kan een persoon die ander party kontak om te vra of hulle kan ooreenkom om hulle geskil na ‘n bemiddelaar te verwys. Hulle kan saam besluit om ‘n spesifieke bemiddelaar te kontak of om een van verskeie diensverskaffers of instellings te vra om ‘n bemiddelaar aan te wys om die geskil te bestuur en ‘n mediasie te doen. (een sodanige mediasie-paneel is te vinde by www.aim-mediation.co.za)

Alternatiewelik, indien die partye nie met mekaar praat nie, of een party verkies om uit sy eie oorweging die proses te begin, kan hy/sy ‘n bemiddelaar direk kontak, die behoefte vir ‘n mediasie verduidelik en die bemiddelaar met die ander party se kontakbesonderhede voorsien.

Die bemiddelaar sal dan die ander geskilsparty kontak om hom/haar in te lig dat die 1ste party die bemiddelaar gekontak het met die doel om beide partye uit te nooi na ‘n mediasie ten einde hul geskil te bespreek en by te lê.

Die taak van die bemiddelaar is om die bespreking tussen die partye te fasiliteer en hulle te help om hul onderskeie belange en bekommernisse, hul verwagtinge, en enige onderliggende redes vir die dispuut te ondersoek en om saam met die partye moontlike oplossings te vind wat die geskilpunte kan aanspreek en oplos.

Bemiddelaar neem beheer:

Wanneer ‘n bemiddelaar ‘n oproep/epos kry van een of beide van die partye, sal hy/sy die proses bespreek en verduidelik, spesifiek die beginsel van vertroulikheid, dat die proses sonder benadeling van regte is (niks wat bespreek word in die mediasie kan later in ‘n hofgeding gebruik word nie), die vrywillige aard van die proses en die onpartydige rol van die bemiddelaar ten opsigte van die proses.  Die bemiddelaar sal dan voortgaan om die partye te voorsien met ‘n Ooreenkoms om te Medieer (laai ‘n kopié hier af) waarin die mediasiebeginsels uiteengesit word, die praktiese reëlings uiteengesit of getref word, en die fooie van die bemiddelaar verklaar/ooreengekom word. Wanneer beide partye instem tot die terme, sal hulle die ooreenkoms teken en die bemiddelaar sal dan beide partye kontak om ‘n wedersyds gerieflike tyd en plek te reël wanneer en waar die mediasie sal plaasvind.

Terwyl mediasie nie ruimte-wetenskap is nie, is die proses, indien behoorlik bestuur deur ‘n opgeleide en ge-akkrediteerde bemiddelaar, ‘n gestruktureerde, gefasiliteerde onderhandelingsproses wat die partye in staat sal stel om hul onderskeie belange, bekommernisse en verwagtinge ten opsigte van die tersaaklike geskil/dispuut te ondersoek.  ‘n Behoorlike begrip van die onderliggende redes van die dispuut/geskil en ‘n praktiese begrip van die opsies wat beskikbaar is vir hulle om die geskil op te los, lei dikwels daartoe dat  die geskil besleg word tot die bevrediging van beide partye, of minstens gereduseer word tot ‘n eenvoudiger, duideliker geskil om mee te handel.

Koste van Mediasie: 

Die koste van ‘n bemiddelaar is gewoonlik die enigste definitiewe uitgawe, is onderhandelbaar en kan wissel van R800 tot R2000 per uur. Ander kostes soos bv. vir vergaderplekke, verversings of maaltye ens. word baie min aangegaan. Indien een of beide van die partye hulle regsverteenwoordigers teenwoordig wil hê, sal dit die onderskeie partye se eie koste wees.

Vergelykenderwys is ‘n regter verniet, maar die koste van ‘n bestrede Hooggeregshof-aksie en verhoor kan baie vinnig honderdduisende rande beloop.  Terwyl sommige dispute sonder twyfel litigasie sal vereis, as gevolg van die aard van die reg, die feite van of partye tot die geskil, kan meeste verskille en geskille aangespreek en besleg word sonder om die geregshowe te betrek.

Ons Aanbod aan jou:

Ons bied aan om jou en jou geskilsparty vir ‘n uur om ons rondetafel te ontmoet vir ‘n gesprek.  Op ‘n sonder benadeling basis, en teen geen koste nie.

Wat moet jy doen?

Bel ons en sê jy wil van ons aanbod gebruik maak.  Maak die afspraak met ons of gee vir ons die kontakbesonderhede van die ander persoon en ons sal ‘n afspraak reël.  Praat met Chris en/of MC en ons doen die res. (info@chrisfick.co.za / Tel: 021 424 3937)

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)