Chris Fick & Associates

“Jy kan niks maak teen donderweer nie …” (Aangepaste idioom wat ‘n mens se magteloosheid teen die burokrasie beskryf.)

Hoe kan jy jou plaaslike munisipaliteit oor die akkuraatheid van jou diensterekening aanveg? “Die meter moet defektief wees, want daar is geen manier dat ons verbruik so hoog was nie.” Die antwoord van die munisipaliteit bly gewoonlik dieselfde: “Ons het die meter getoets en dit werk perfek. Betaal asseblief of anders gaan ons jou toevoer moet afsluit.”

As daar genoeg op die spel is, kan die partye in die hof eindig. Wie gaan wat moet bewys?

Die goeie nuus vir verbruikers is dat die Hoë Hof onlangs ’n beslissing gegee het, wat juis oor hierdie situasie handel.

Die eis van R4,5 miljoen vir water en afsluiting

  •  ‘n Munisipaliteit het ‘n nuwe watermeter by ‘n kommersiële perseel geïnstalleer.
  • Agtien maande na installasie het die munisipaliteit die meter vir die eerste keer gelees. Hierdie meterlesing was ongeveer dertien keer hoër as die historiese gemiddelde verbruik wat deur die ou meter gemeet was.
  • Die bekommerde verbruiker het versoek dat die nuwe meter getoets moes word. Die munisipaliteit het die nuwe meter verwyder en laat toets en het berig dat dit reg werk. Onverklaarbaar genoeg, het die munisipaliteit hierna van die nuwe meter ontslae geraak.
  • Die munisipaliteit het hierna ‘n derde meter geïnstalleer. Teen hierdie tyd het die verbruiker se besigheid aansienlike groei ervaar. Die waterverbruik wat die derde meter aangetoon het, was egter drie keer laer as die waterverbruik wat die vorige meter aangedui het.
  • Die verbruiker het sy eie berekeninge gemaak van die water wat die besigheid verbruik het en het volgens hierdie berekening ‘n betaling aan die munisipaliteit gemaak. Die munisipaliteit het steeds voortgegaan om die toevoer van water af te sluit. Die munisipaliteit het later geweier om die nodige uitklaringsertifikaat aan die verbruiker uit te reik, toe hierdie sakeperseel verkoop is.
  • Die verbruiker was genoodsaak om twee betalings van altesaam R16,5 miljoen te maak om munisipale uitklaring vir die eiendomstransaksie te kry. Die verbruiker het hierdie betalings onder protes en met die voorbehoud van regte aan die munisipaliteit gemaak.
  • Hierna het die munisipaliteit die verbruiker nog steeds gedagvaar vir net onder die R4,5 miljoen. Die verbruiker het die saak verdedig en het ‘n teeneis vir R9,5 miljoen teen die munisipaliteit ingestel, synde die bedrag wat die verbruiker na berekening te veel betaal het.

Wie moet wat bewys?

Die hof bevind die saak in die verbruiker se guns. Nadat die verbruiker ‘n bona fide dispuut geopper het, was die bewyslas op die munisipaliteit om te bewys dat die meter die watertoevoer en waterverbruik korrek en akkuraat gemeet het.

Die hof bevind dat die munisipaliteit nie daarin kon slaag om dit te bewys nie. Die hof bevind dat die deskundige getuienis wat die munisipaliteit oor die toetsing van die meter aangebied het, onbevredigend en onvoldoende was.

Die eindresultaat was ‘n aansienlike oorwinning vir die verbruiker. Die munisipaliteit moes aan die verbruiker die bedrag van R8 miljoen terugbetaal.

Verbruikers – belangrikste lesse te leer

Die belangrikste faktor in die guns van die verbruiker was dat hy met die twee betalings wat hy gemaak het, dit uitdruklik onder protes gedoen het. Hy het dit duidelik gemaak dat sy betalings voorwaardelik gemaak word; sonder afstanddoening van enige van die verbruiker se regte en sonder om te erken dat hy aanspreeklik was om te betaal. Sonder hierdie voorbehoude, was die bewyslas waarskynlik aan die ander voet en sou die verbruiker moes bewys het dat die meterlesings nie akkuraat was nie. Dit sal dikwels bykans onmoontlik wees vir die verbruiker om te bewys. Regtens het die munisipaliteit die enigste reg om sy meters te toets. Die munisipaliteit het ook beheer oor alle verbruiksdata. In ‘n geval soos hierdie, met miljoene op die spel, moet jy dus geen betalings op ‘n rekening in dispuut maak nie, sonder dat jy eers regsadvies verkry het nie.

Wat moet die munisipaliteite bewys?

‘n Munisipaliteit moet kan bewys dat die meter se toetse ten volle aan alle voorgeskrewe vereistes voldoen. Dit is ook voor die hand liggend dat enige omstrede meters nie vernietig kan word nie, maar beskikbaar moet bly totdat alle betrokke litigasie tot ‘n einde gekom het.

© DotNews, 2005-2016. Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)